Die Boer - Veeverkope neem drasties af in 2014
Die Boer - Veeverkope neem drasties af in 2014

Die Boer - Veeverkope neem drasties af in 2014

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Met Namibiese lewendehaweprodusente wat hulle opnuut in die drukgang vir noodbemarking bevind, wys die Vleisraad se bemarkingsverslag vir 2014 die verkope van groot- en kleinvee het verlede jaar met onderskeidelik 43% en 28% gedaal.
Produsente het verlede jaar 240 929 grootvee-eenhede bemark teenoor die 425 388 van die vorige jaar. Daarteenoor het die bemarking van kleinvee teruggesak van 1 356 548 eenhede in 2013 na 982 235 verlede jaar.
Dié afname is toe te skryf aan die goeie reënval wat vanaf Desember 2013 in Namibië voorgekom en selfs tot in Mei verlede jaar voortgeduur het. Die aansienlike verbetering in weidingstoestande ná die fel droogte van 2013, het meegebring dat produsente hul vee teruggehou het in ’n poging om hul verkleinde kuddes weer op te bou.
Min het hulle egter geweet die boufase sou van korte duur wees met Namibië wat vanjaar opnuut ’n skerp afname in reënval beleef.

Beeste geslag
Volgens die Vleisraad se oorsig is 111 101 beeste verlede jaar by Meatco (Windhoek en Okahandja) en Witvlei Meat geslag. Dit was 4% minder as die 115 819 van die vorige jaar.
Hiervan was 32,45% A-grade, 19,99% AB-grade met die B- en C-grade wat onderskeidelik 26,42% en 20,33% van die totaal beloop het. Karkasse het gemiddeld 231,76 kg uitgeslag, wat 2% ligter was as die gemiddelde karkasmassa van 236,64 kg in 2013.
Verder is ‘n totaal van 9 380 ton verkoelde en gevriesde, ontbeende snitte verlede jaar na markte in die Europese Unie en Noorweë en 7 487 ton na die Afrika-mark uitgevoer. Dit is 16% minder as in 2013 toe 20 154 ton (10 229 ton na EU/Noorweë en 9 925 ton na Afrika) uitgevoer is.

Uitvoere na Suid-Afrika
Wat die uitvoer van beeste op die hoef na Suid-Afrika betref, was die daling selfs nóg skerper. Altesaam 62% minder beeste as in 2013 is verlede jaar lewend uitgevoer – dit is naamlik 100 211 beeste teenoor die vorige jaar se 262 929, wys die verslag.
Die groot rede hiervoor was die streng invoerregulasies wat Suid-Afrika op 1 Mei verlede jaar ingestel en eers in Augustus verslap het.

Produsentepryse
Die gemiddelde produsenteprys vir beesvleis het einde verlede jaar op N$29,04 per kilogram gestaan, terwyl speenkalfpryse die jaar op N$17,69 per kilogram afgesluit het. Daarteenoor het die pryse van stoor- en slagosse onderskeidelik N$16,62 per kilogram en N$16,62 per kilogram (lewende gewig) beloop.

Lewendehawe na Angola
Altesaam 23 164 beeste, skape en bokke is tussen Januarie en September 2014 lewend na Angola uitgevoer. Dit is 12 877 minder as die vorige jaar se 35 942 groot- en kleinvee-eenhede.

Kleinveesektor
Produsente het in 2014 altesaam 982 235 skape en bokke van die hand gesit, terwyl hulle die vorige jaar 1 356 548 kleinvee-eenhede bemark het. Dit verteenwoordig ‘n daling v an 28%.
Hiervan is 559 160 skape plaaslike geslag, wat 30% minder is as die vorige jaar se 798 963.
Wat lewende uitvoere betref, het die syfer met 24% teruggesak van 427 240 in 2013 tot 326 211 in 2014. Bykans ewe veel bokke as skape het die land op die hoef verlaat.

Produsentepryse
Die gemiddelde prys vir A2 het aan die einde van 2014 N$46,23 per kilogram beloop, wat 19% hoër was as die vorige jaar se N$38,86 per kilogram.
Lammers het op die veilings gemiddeld N$18,53 per kilogram (lewende gewig) behaal, wat 20% beter was as die 2013-prys van N$15,49 per kilogram.
Bokke het verlede jaar gemiddeld N$431,33 per kop vir klein bokke (32 kg), N$656,79 vir medium bokke (32 tot 45 kg) en N$1 017,43 vir groot bokke (45 kg en meer) behaal.

Varke
Altesaam 40 932 varke is verlede jaar vir die plaaslike mark geslag in vergelyking met die vorige jaar se 39 149, wat ‘n styging van 5% verteenwoordig het.
Daarteenoor het Namibië verlede jaar 2 734 ton varkvleis ingevoer. In 2013 het die invoer van varkvleis 2 383 ton beloop.

Verwagtinge vanjaar
Mnr. Morné Labushagne, hoof van inligtingstelsels by die Vleisraad, waarsku in die verslag as die reënvalpatroon soos dit tans daar uitsien tot aan die einde van die seisoen voortduur, die land hom in ‘n droogte soortgelyk as 2013 bevind.
Die Vleisraad het produsente reeds vroeg vanjaar versoek om ’n opname van hul weiding te maak en te sorg die land beland nie in ’n situasie waar groot getalle vee eenklaps bemark moet word nie.
Die noodbemarking twee jaar gelede en die impak daarvan op die Suid-Afrikaanse mark, was een van die groot dryfvere agter die skielike instelling verlede jaar van streng invoervereistes deur Suid-Afrika se veeartsenydienste.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer