Die Boer - Handige bestuursprogram vir kleinveeboere
Die Boer - Handige bestuursprogram vir kleinveeboere

Die Boer - Handige bestuursprogram vir kleinveeboere

Ronelle Rademeyer
Danie de Lange, Voedingkundige - In hierdie artikel deel ek graag riglyne met kleinboere ten opsigte van die gesondheids- en voedingsbestuur van hul kuddes ten einde produksie te verbeter.
Voor ek daarby kom, is dit belangrik om op die volgende te let:
Ooie is ongeveer 150 dae dragtig. Gus-ooie kom elke 17 dae vir 36 uur op hitte – veral tussen Februarie en Augustus.
Goeie voeding is baie belangrik ses weke voor paring én ses weke voor lamtyd.
Tussen drie tot vyf weke ná lamming bereik melkproduksie sy hoogste vlak, waarna dit vinnig daal.
Ooie kan nie ram vat binne 45 dae dae na hulle gelam het nie.
Ooie wat vanaf September lam, gee meer tweelinge en daarom is die regte byvoeding noodsaaklik.
Ramme moet altyd in ‘n goeie, gesonde toestand gehou word vir goeie vrugbaarheid.
Ondersoek (voel) ramme se teelballe minstens twee keer per jaar vir knoppe en verhardings.
Nie minder as twee volwasse ramme per honderd ooie moet gebruik word nie en ramme moenie jonger as ‘n jaar wees nie.
Die regte byvoeding verhoog vrugbaarheid, melkproduksie en lammers groei vinniger.
Moenie diere later as sewe uur soggens nog in die kraal laat staan word nie.

Hier volg ‘n jaarplan wat u gerus kan volg:


Januarie
Alle groot lammers moet bemark word, behalwe “hou-ooitjies”.
Ent ramme vir paarseisoen wat voorlê.
Ondersoek ramme se teelballe vir knoppe en verhardings.
Ram met vergrote teelbal moet onmiddellik geslag word.

Februarie
Indien veld groen is, skakel oor na 40 kg FUTTERFOS plus 50 kg sout of P6-lek.
Doseer alle volwasse skape, bokke en ramme teen neuswurm.
Spuit net die dragtige ooie ses weke voor hulle lam met ‘n kombinasie-entstof.
(Bloednier, pasteurella, sponssiekte, klem-in-die-kaak.)


Maart
Behandel diere teen bosluise.
Van die ooie kan of het begin lam indien ramme nooit uitgehaal word nie.
Maak krale reg, verwyder mis en herstel krippe wat lek.


April
Van die ooie lam nog – hou lammers wat afgehok word in skaduwee, gee skoon water.
Lammers ouer as drie weke moet elke dag minstens 50 g RAMLAMOOI-korrels of KRUIPVEE-korrels kry.
Behandel diere teen bosluise.


Mei
Doseer net lammers ouer as ses weke teen melklintwurm, merk en kastreer.
Begin dip boklammers teen blouluis indien nodig.
Behandel diere teen bosluise.
Maak krale reg, verwyder mis en herstel krippe wat lek.


Junie
Dip boklammers teen blouluis indien nodig.
Doseer die res van die lammers nou teen melklintwurm.
Spuit net die dragtige ooie ses weke voor hulle lam met ‘n kombinasie-entstof.


Julie
Ondersoek ramme se teelballe vir knoppe en verhardings – verwyder aangetaste ramme.
Van die ooie kan binnekort begin lam as ramme nooit uitgehaal word nie.
Merk ooie met speen- en uierprobleme en bemark ooie sodra lammers ouer as drie maande is.
Skakel oor na klaargemengde ECO-GRASVELDLEK (geskik vir skaap, bok en bees).
Maak krale reg, verwyder mis en herstel krippe wat lek.


Augustus
Lammers wat bedags afgehok word, moet skaduwee en skoon water kry.
Lammers ouer as drie weke moet elke dag minstens 50 g RAMLAMOOI-korrels of KRUIPVEE-korrels kry.
Doseer net lammers ouer as ses weke teen melklintwurm en merk hulle.
Koop nuwe ramme indien nodig en doseer 100 ml vars pensmiswater per ram, dan pas hulle vinniger aan.


September
Kastreer alle ramlammers.
Help lammerooie elke aand met 150 g per ooi: RANGELAND GROWER-, BREKER12- of LUSERNKORRELS.
Gee vir ooie met tweelinge 400 g korrels per ooi per dag.
Meerlinglammers moet elke dag 50 g – 100 g RAMLAMOOI-korrels of KRUIPVEE-korrels kry.
Elke ram kan 250 g STOETVEE-korrels per dag kry vir prikkelvoeding (ses weke lank), want ooie wat nou ram vat, lam in die groenseisoen en lammers groei vinnig.
Doseer alle skape/bokke/ramme met breëspektrummiddel wat neuswurm insluit.
Maak krale reg, verwyder mis en herstel krippe wat lek.


Oktober
Indien ooie swaarkry, gebruik RANGELAND GROWER, BREKER 12- of LUSERNKORRELS.
Beplan u bemarking van lammers en uitskotdiere vir November/Desember.
Merk ooie wat nie gelam het nie, alle hamels/kapaters en ou ramme vir bemarking.
Maak seker dat u genoeg FANMEAT-plaatjies het.
Doen kolbehandeling vir bosluise.


November/Desember
Bemarkingstyd – Kontroleer FANMEAT-plaatjies, veilingsdatums en permitte.
Bring uself op hoogte van heersende veilingspryse.
Vergelyk u lammers se kwaliteit met ander lammers op veiling.


Ten slotte
Hok groter lammers elke aand af en gee 200 g RAMLAMOOI-korrels of KRUIPVEE-korrels per lam vir vier tot agt weke.
Boklammers hoef nie vet te wees nie; kry net die hare blink met RAMLAMOOI-korrels of KRUIPVEE-korrels.
Ent nie-dragtige bokooie teen ensoötiese aborsie.
Maak krale skoon, verwyder mis.
Bemark die meeste diere voor Kersfees, want pryse is meestal hoog.

Kommentaar

Republikein 2025-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer