Die Boer groet ná byna 10 jaar

Ronelle Rademeyer
Landbou is een van die staatmaker boublokke van die nasionale ekonomie en 'n sektor met groot groeipotensiaal. Dit wat die afgelope jare in die houtskoolbedryf gebeur het, is 'n goeie voorbeeld van hoe 'n eens sluimerende bedryf binne dié sektor ontluik het en fenomenale groei toon.

Die rol van inligting en die wyse waarop dit deur landbouskrywers na verskillende gehore binne die landbougemeenskap gekommunikeer word, is net so nodig vir die groei en ontwikkeling in die sektor as wat kapitaal en ondernemingsgees is.

Die is daarom vir die redaksie van Die Boer hartseer om aan te kondig dat hierdie die laaste uitgawe is. Die Boer het in April 2012 – dus nege jaar en vier maande gelede – sy debuut gemaak.

Hoewel koerante en tydskrifte al sedert die aanvang van die resessie onder hewige druk is weens die toenemende migrasie van adverteerders na digitale platforms, was die Covid-19-pandemie die spyker in die doodskis vir vele publikasies.

Die goeie nuus is dat Namibia Media Holdings die Agri Monitor-handelsmerk gaan verstewig. Lesers kan uitsien na 'n nuwe, weeklikse landbouseksie in Republikein en Namibian Sun. Hou ook die weeklikse aanlyn uitsending op Facebook dop vir nuwe verwikkelinge in die digitale sfeer.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer