Die bekoring van die platteland
Elvira Hattingh
Jakaryntjie dans as sy saans die sterre sien, Jakaryntjie mis haar Windhoek-maatjie. Daar is ‘n mooi in die stilte. Die lug is suiwer-skoon.
Onthou net, dis oom en tannie hier! Niks ge-meneer, ge-mevrou, ge-dominee of ge-hier-jy nie. Respek en vriendelikheid, Afrikaans is die wagwoord.
Ons het name en ons groet, of jy my ken, is ’n bysaak. Nou-nou gesels ons soos ou vriende oor die muur, netnou gesels ons die Mieliedriehoek aan die brand! Land ek dan nou hier toe die lande ryp van die mieliekoppe staan. Hulle groei só, want daar is geen soeter water as dié uit die groot fontein nie.
Word warm, word nou vlees, my versteende Windhoek-hart.
Dit was ’n leeftyd, maar dit voel soos ‘n tuiskoms as ek weer Wilhelm Nortier se skoolgange deurstap. Dis soos ek onthou en tog heeltemal anders. Vyftien jaar gelede se bekende gesigte om elke hoek, tóe was ons nog kinders, nou praat ons oor waar om óns kinders in die skool te sit.
Ons het almal vér paaie geloop, maar tog ons pad teruggevind hierheen.
Dis ou-bekend en half vergete-vreemd, hierdie terugloop op jou spore van destyds. (Ai, hoe loop ek dan nou hier so alleen, waar jou voete so baie spore gelaat het, liewe ouma? Dis nog winter in my hart, maar ons voete trap nuwe spore, kleintjies en grotes, ek en my moskombersie-mense.)
O en naweke – die saligheid! Pa en ma se warm huis, tone in die plaassand en plek vir sommer-net-wees. Daar is nou die genadige voorreg van ’n ouer naby, van ’n vinnige koffie en ’n vinnige hello.
Want ek weet die laaste sandkorrel loop eindelik deur elke uurglas. Ongeag.
Hier is baie werk en min hande, en enersyds baie hande en min geld, maar hier werk jy tot jou rug kromstaan. Ons het skaars ingetrek en sy staan daar, Engel-Monika, om op haar stil-ordentlike manier te kom vra om ons huis skoon te maak.
Krisis, die gordyne gaan nie hang nie. Ek kort die outydse gordyn-wielietjies en die winkels het nie. Ma tel ‘n telefoon op na die dorp se tannies en ek leer nog iets: Hier help jy jou medemens, al gaan jy dit nooit weer kan terugkry nie.
Jy help al is dit net met raad of ‘n glimlag en ‘n geselsie om hul dag op te kikker. Hier leer jy van dankbaarheid tussen bokse uitpak, werk, kinders grootmaak en chaos. Hier tel jy net jou seëninge.
Ek wonder ook hoe kry jy vlermuise uit jou kaggel uit? Iemand moet weet, want elke huis op die snikhete dorp het ’n kaggel!
Meteens kyk ek met ander oë na die plek waar ek die eerste lewenslig aanskou het. Want hier loop die stories nog ongeskryf, wild rond. Wat ’n voorreg as ék iemand mag wees wat hulle op papier gaan kan vaspen!
Want dis die platteland in ons woestynland. Vredesland, sonskynland. Word nou vlees, my hart.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie