Dié Namibiërs in Major League Rugby betrek

Minstens vyf Namibiërs is by franchises in die VSA gekontrakteer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Namibië behoort sy sterkste teenwoordigheid nóg te handhaaf wanneer die Major League Rugby aanstaande maand in die VSA afskop.

Nie minder nie as vyf Namibiërs is in verskillende spanne gekontrakteer vir die seisoen wat op 20 Maart sy eerste wedstryddag het.

In dié vyftal is die hardwerkende losvoorspeler Wian Conradie nie bygetel nie, ná die ongelukkige verwikkeling dat sy blinknuwe franchise, die Dallas Jackals, intussen sy onttrekking uit die komende seisoen aangekondig het.

Die Jackals sou ’n nuwe byvoeging gewees het, maar Covid-19 het ’n uiters nadelige invloed op die klub se logistieke reëlings gehad.

Die Jackals se president Scott Sonju het in die onlangse nuusverklaring gesê: “Die pandemie het uiteraard verreikende nagevolge op vele besighede. Vir ’n sportspan wat nuut op die been gebring word, het dit spesifieke uitdagings gestel – van die behoorlike kultivering van verhoudings met die gemeenskap en sakewêreld, tot die proses om viums vir internasionale spelers te verseker. Die uitdagings is veelvuldig in ’n normale klimaat en soveel te meer in die afgelope jaar se ongewone omstandighede.”

Conradie het aan die koerant gesê: “Ek is op die oomblik nog in Namibië in afwagting op die visums om afgehandel te word. Die feit dat die klub uit 2021 onttrek het, is maar slegte nuus en Covid-19 het ’n groot rol in hul besluit gespeel. In dié stadium hou ons goeie moed en my agent is reeds besig om te kyk na ’n ander uitweg.”

Vier jeugdige lede van die 2019 Wêreldbekerspan is tans in Amerika vir die komende seisoen wat vanaf 20 Maart tot die bestemde finaal op 1 Augustus sal strek.

Vanweë die Noord-Amerikaanse land se uitgestrekte oppervlak en verskille in tydsones word die liga se groepfase in twee “konferensies” verdeel, naamlik die Weste en Ooste.

• Die Namibiese haker Obert Nortjé het hom reeds by die Seattle Seawolves aangesluit, waar nog ’n Namibiër, Kees Lensing, die hoofafrigter is.

Die 42-jarige Lensing het tussen 2002 en 2009 in 23 toetse gespeel, insluitend agt in die Wêreldbekers van 2003 en 2007. Hy was in twaalf toetse kaptein van die nasionale span.

Lensing se Seattle Seawolves is die heersende kampioenspan, wat in die openingseisoen 2018 én 2019 die nasionale titels ingepalm het. Die 202-seisoen wat vanweë die pandemie gekanselleer is, het egter nie so vlot verloop nie, met twee oorwinnings en drie nederlae.

Die 23-jarige Nortjé het voor sy vertrek uit Windhoek aan die koerant gesê dat die Namibiese veteraan-agtsteman en slot, Pieter-Jan van Lill, sy vertroue in Nortjé verklaar het toe Lensing hom oor die haker se vermoëns uitgevra het.

Nortjé, tevore van die Universiteit van Namibië, het tot nou in 17 toetse gespeel.

• Die skrumskakel Damian Stevens is ’n aanwins vir die New Orleans Gold. Die 25-jarige gebore Walvisbaaier het tevore provinsiale rugby vir die Haaie, die WP en Griekwas gespeel.

Hy het ook die 2015 en 2019 Wêreldbekers op sy getuigskrif, met ’n uitstekende drie teen Italië by laasgenoemde openingswedstryd in Japan. Dit was sy vyfde drie in 27 toetse sedert 2015.

Die voormalige Stormers- en Melbourne Rebels-senter JP du Plessis is een van die herkenbare name in die New Orleans Gold se spelersgroep.

• Losskakel Cliven Loubser spog op die jeugdige ouderdom van 23 reeds met 169 punte in 17 toetse. Hy het in 2019 sy Wêreldbeker-debuut teen Italië en die Springbokke gemaak. Loubser se nuwe uitdaging is om sy merk as ’n spelskepper by die Utah Warriors te maak.

• Adriaan Booysen (agtsteman) het reeds verlede jaar by die Houston SaberCats begin speel. Die span het toe twaalfde in die onvoltooide seisoen geëindig, ná die vorige twee seisoene se sewende posisies.

Die 24-jarige Booysen het sedert 2017 in sewe toetse vir Namibië uitgedraf, insluitend verskynings teen die Springbokke en die All Blacks twee jaar gelede.
[email protected]


FOTO’s
Adriaan Booysen, Namibiese agtsteman, verlede seisoen in aksie vir die Houston SaberCats. Foto Facebook (Dave Snook)

Damian Stevens loods ’n skop in die 2019 Wêreldbekerwedstryd teen die All Blacks in Tokio. Foto Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer