Dié Bok-span moet Leeus Saterdag tem

Rugby
Ná weke van ontwrigting met beserings en ’n Covid-19-uitbreking het die Springbokke die span onthul met wie hulle die Britse en Ierse Leeus Saterdag in Kaapstad die stryd gaan aansê.
Die agterlyn in die opdrafspan is presies dieselfde een as wat die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in 2019 begin het, terwyl Jacques Nienaber-hulle die agttal gekies het wat op 2 Julie vir die toets teen Georgië op Loftus Versfeld in die begin-vyftiental was.
Dít beteken dat die onervare voorry-kombinasie van Ox Nché, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane aanvanklik in die skrums teen die kragtige pak van die Leeus gaan moet sak.
Die Bokke se pak het met dié voorry in die vaste skrums gesukkel teen die Georgiërs en veral Nyakane het swaar geleef. Dít was ook die geval toe hy verlede week vir die SA A-span teen die Leeus gespeel het.
Drie Wêreldbeker-voorryhelde, Steven Kitshoff (loskopstut), Malcolm Marx (haker) en Frans Malherbe (vaskopstut), is egter op die plaasvervangersbank ingesluit.
Met Duane Vermeulen nog op die krukkelys, sal die beweeglike Kwagga Smith op agtsteman diens doen.
Die Bokke kon wel hul kaptein, Siya Kolisi, inspan nadat hy van Covid-19 herstel en mediese toestemming gekry het om Saterdag te speel. Dieselfde geld spelers soos Handré Pollard (losskakel), Makazole Mapimpi (linkervleuel) en Malherbe.
Anders as in die Wêreldbeker-toernooi, waar die Bokke ses voorspelers op die bank gehad het, sal daar Saterdag net vyf wees, met drie agterspelers (Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Damian Willemse).
Lood de Jager, wat lank beseer was, is as plaasvervangerslot gekies.
• Die Springbok-span is: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Kwagga Smith, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi, Ox Nché.
Reserwes: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Lood de Jager, Rynhardt Elstadt, Herschel Jantjies, Elton Jantjies, Damian Willemse.
– Netwerk24


Ox Nché se enigste toets sover was teen Wallis in Washington DC in Junie 2018. Foto Getty Images

Siya Kolisi is fiks verklaar om die Springbokke Saterdag te lei. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-08-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer