Deurbreekjaar in Europa afgesluit
Die jaarlikse Diamantliga is Wêreldatletiek se hoogste vlak van 14 byeenkomste in Europa.
Tielman van Lill – Christine Mboma sal haar laaste verskyning vir die 2021-atletiekseisoen komende Vrydag en op Woensdag 8 September, onderskeidelik in Brussels en Zürich, in die 200 meter-naelloop by die Wanda Diamantliga maak.
Die 18-jarige is wêreldwyd op al wat leef en beef se lippe sedert haar silwermedalje in die 200 by die Olimpiese Spele in Tokio, gevolg deur haar ewe indrukwekkende goud (200 meter) en silwer (4x100-aflos) by die o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi.
Dus was dit geen wonder dat Wêreldatletiek (WA) haar na sy laaste twee Diamantligabyeenkomste genooi het nie.
Mboma het in Tokio haar eie o.20-wêreld-, o.20-Afrika-, senior Afrika- asook Namibiese senior rekord van 21.97 sekondes na 21.81 verbeter. In Nairobi het sy dit weer met 'n uitstekende 21.84 vir goud skrikgemaak.
Ná slegs drie maande op die internasionale 200-toneel word die Namibiër deur WA reeds as die sesde beste 200-atleet op sy wêreldranglys ná gevestigde topatlete soos Elaine Thompson-Herah (Jamaika), Gabrielle Thomas (VSA), Marie-Josée Ta Lou (Ivoorkus), Mujinga Kambundji (Switserland) en Shelly-Ann Fraser-Pryce (Jamaika) vereer.
Slegs Thompson-Herah met 21.53 kon Mboma vanjaar by die Spele in Tokio vir die gesogte goue medalje klop, ná die Namibiër se sensasionale eindpoging om al die ander genoemdes vanuit die sesde posisie verby te steek.
Mboma sal in Brussels en Zürich opnuut met die wêreld se vinnigste 200-vroue skouers skuurs en daarna sal sy 'n ruskans tot volgende jaar kry, wanneer vele nuwe uitdagings op haar wag.
Indien sy met die volgende twee Diamantligabyeenkoms uitblink, kan sy welverdiend 'n posisie of twee op WA se 200-wêreldranglys opskuif.
In Europa sal haar paaie heel waarskynlik kruis met die heel beste spoedvrate wat almal vanjaar gereeld onder 22 sekondes gehardloop het – soos Thompson-Herah (seisoensbeste 21.53), Thomas (21.61), Fraser-Pryce (21.79), Shericka Jackson van Jamaika (21.82), die Amerikaners Jenna Prandini (21.89), Anavia Battle (21.95) en Tamara Clark (21.98).
Dan is daar ander immer gedugte kampioene soos Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas (seisoensbeste 22.03), Dina Asher-Smith van Brittanje (22.06), die Amerikaanse duo Sha'Carri Richardson (22.11) en Allyson Felix (22.11) asook Ta Lou van die Ivoorkus (22.11) wat op enige dag vir 'n verrassing kan sorg.
Mnr. Henk Botha, persoonlike afrigter van Mboma, sê die ontvangs van die amptelike uitnodiging deur WA is vir die tienermeisie 'n geweldige voorreg.
“Dat Christine deur WA na die voorlaaste Diamantliga-byeenkoms en die finaal in Zürich uitgenooi is, is vir ons 'n baie groot eer. As die reëls van die Diamantliga dieselfde bly, kan Christine selfs as die wenner van die liga aangewys word. Maar dit hang natuurlik alles af hoe sy op die baan gaan presteer.
“Ek, Christine en Beatrice Masilingi vertrek (vandag) om 13:00 na Europa. Beatrice gaan op haar beurt in Kroasië en Kenia deelneem.”
Masilingi (18), vriendin en oefenmaat van Mboma, se volgende beurt is op 14 September in die 200 by die 71ste Boris Hanžekovic-gedenkbyeenkoms in Zagreb, Kroasië.
Dié oudste sportbyeenkoms in Kroasië is deel van WA se Goue kontinentale toerreeks.
Masilingi se laaste deelname vir 2021 wag op 18 September by die Kip Keino Classic in Nairobi. Daar sal sy opnuut in die 200 haar klas wys, maar kan moontlik ook die 100 meter by die Nasionale Nyayo-stadion aanpak. Dié byeenkoms is die laaste van WA se Goue kontinentale toerreeks wat jaarliks van April tot September aangebied word.
Masilingi (persoonlike beste en seisoensbeste 22.28 by die onlangse o.20-wêreldkampioenskap in Kenia) word tans deur WA as nommer 10 op sy wêreldranglys vir die 200 meter in 2021 aangedui.
By die o.20-wêreldkampioenskap het sy silwers in beide die 100 (11.39) en 200-naellope opgeraap en dit met nog 'n silwer in die 4x100-aflos afgesluit.
Sy het in haar 100-uitdun haar beste tyd nóg (11.20 sekondes) opgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie