Desperaatheid vir grond op Dordabis
Desperaatheid vir grond op Dordabis

Desperaatheid vir grond op Dordabis

Inwoners voel ‘in die steek gelaat’
Jemima Beukes
Jemima Beukes op Dordabis – Grondlose mense wat in die Dorda­bis-nedersetting woon, het laas ­Saterdag aangedring dat ­dringende aandag gegee word aan gemeen­skapslede se pleidooie, wat ná drie besoeke van die voorvader­like grondkommissie nog nie aandag gekry het nie.

Die gemeenskap voer aan hulle woon die afgelope 30 jaar op 'n oorvol stuk grond van tien hektaar en dat sover dadels gekom het van hul pleidooie om hulp en ingryping.

“Die afgelope 30 jaar het ons reeds met elke goewerneur, elke minister en elke streekraadslid vergader om ons haglike woonomstandighede te bespreek. Ons is belowe dat ons saak voorkeur geniet en binnekort opgelos sal word, maar ons situasie vererger net en ons voel in die steek gelaat deur ons regering en die leiers wat ons gekies het,” lui 'n versoekskrif.



GEEN TITELAKTES

Terwyl hulle in tydelike plakkershutte woon, kan die gemeenskap nie behoorlike huise bou deur spaarskemas soos die Shack Dwellers Federation of Namibia nie, omdat hulle nie ­titelaktes het vir die grond waarop hulle woon nie.

Die gemeenskapshoof en aktivis, mnr. Albertus Rooi, sê die situasie is haglik omdat meer en meer mense daagliks deur naburige boere na die gebied gedwing word.

“Die gebied is oorbevolk omdat meer as 1 500 inwoners hierdie grond met die skool-, kliniek- en polisiekantoorpersoneel deel. Drie tot vier geslagte van families word gedwing om beknopte spasies te deel op die klein stukkie grond wat geen behoorlike sanitasiegeriewe het nie,” het hy gesê.

Die gemeenskap voer ook aan hulle beleef hongersnood omdat hulle werkloos is en nie 'n bestaan kan maak deur vee op die land aan te hou nie.



'ONMENSLIK', 'TRAGIES'

“Daar is geen ruimte vir tuinbou nie, want die spasie is te min. Dit is selfs 'n misdaad om vuurmaakhout ­bymekaar te maak in dié dorpie wat ons ons tuiste noem. Ná 30 jaar van onafhanklikheid leef ons steeds in onmenslike en tragiese omstandighede,” het Rooi gesê.

Die versoekskrif is gerig aan die landbouminister, mnr. Calle Schlettwein, wat teen Sondag steeds onbewus was van die protes.

Mnr. Piet Adams, raadslid in Windhoek se landelike kiesafdeling, kon nie die versoekskrif in ontvangs neem nie en het 'n amptenaar in sy kantoor gestuur om dit namens hom te ontvang.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer