Desert Storm arriveer in Texas

Lukas, met 'n onoorwonne rekord van 23-0 (16 uitklop­houe) en 'n sesde posisie op die IBF se wêreldranglys, is desperaat om 'n deurbraak in die VSA te maak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die 23-jarige Isaac (Canelito) Avelar van Aguascalientes, Mexiko, kom Sondagoggend Namibiese tyd teen Sakaria (Desert Storm) Lukas in Arlington, Texas, te staan.

Canelito (16 oorwinnings, twee nederlae, 10 uitklophoue) en Desert Storm sal mekaar by die AT&T-stadion pak in 'n voorgeveg vir die welter­gewigte Errol Spence Junior en Danny Garcia se wêreld­titelgeveg vir die IBF (Internasionale Boksfederasie) en WBC (Wêreldboksraad).

In sy strewe om sy loopbaan as veergewig (57.15 kg) 'n betekenis­volle hupstoot te gee, plaas die 36-jarige Lukas sy onoorwonne rekord in die VSA op die spel teen Avelar, wie se voorheen onoorwonne rekord in sy laaste twee gevegte bederf is.

Avelar, wat in Mei 2015 as 18-jarige vir sy eerste beroepsgeveg deur die toue geklim het, het onverwags in Augustus en Desember 2019 sy rieme styfgeloop.

In sy eerste nederlaag buig hy ná 'n linkerhaakhou teen sy kortrib die knie in die sesde ronde teen die onoorwonne 26-jarige Stephen (Cool Boy) Fulton (18-0) van die VSA, wat in sy vorige geveg die Namibiër Paulus Ambunda in 'n eenparige puntebeslissing van sy IBO weltergewigwêreldtitel ontneem het.

In Desember 2019 was die Mexikaan terug op sy tuisbodem, maar sy wisselvallige landgenoot Miguel Tique (15-15) het hom met 'n puntebeslissing oor ses rondes geklop.

Avelar lyk nie na 'n buitengewone harde of vinnige slaner nie en verskyn nie op enige van die gesaghebbende ­beheerliggame se wêreldranglyste nie. Die jongman is wel 'n vreeslose, onverskrokke en woeste vegter met 'n baie hoë werktempo, al is hy nie altyd besonder akkuraat nie.

Avelar hou daarvan om gedurig aan te val en peper graag sy teenstander met haakhoue na die kop en lyf, asook ­opstoppers met beide vuiste. Hy lewer egter selde berekende kombinasies en kan as 'n wildewragtig beskryf word. Sy verdediging lyk verdag en hy beskerm nie sy lyf of kop goed nie.

Sy voetwerk is goed, maar nie uitstaande nie. Hy is geneig om sy kop na sy linkerkant te laat sak, wat 'n teiken vir Lukas se verwoestende regter kan wees.

Mexiko is een van die vrugbaarste teelaardes van wêreldkam­pioene in die bokskryt, en ­Canelito se strewe om die top­vlak van die sport te haal, sal gewis deur die vasberade Desert Storm in die kryt beproef word.

Die Namibiër, wat sedert April 2017 die Wêreldboksorganisasie (WBO) se Afrika-veergewigkampioen is, het sy pad boontoe stelselmatig oopgeveg.

'n Uitgerekte dispuut met sy vorige promotor het hom egter bykans 18 maande van onaktiwiteit tussen Desember 2017 en Mei 2019 gekos.

Lukas het op 6 Desember 2019 laas geboks. Die aankoms van die Covid-19-pandemie in die VSA het daartoe gelei dat sy groot geveg by Madison Square Garden in New York teen Jesse Magdaleno in die laaste ure vooraf gekanselleer moes word.

Lukas se beroepsrekord van 23-0 (16 uitklophoue) bevat dus steeds net een geveg buite sy landsgrense, toe hy in Harare die Zimbabwiër Ndodana Ncube (6-2) met 'n uitklophou in die agtste ronde verslaan het.

Die Namibiër sal die naweek met 'n oortuigende oorwinning bitter graag weer die momentum wil opbou om sy naam tussen die bestes in die veergewigklas te vestig.

Saterdagaand se botsing in Texas sal die tweede geveg binne agt dae vir 'n Namibiër in die VSA wees. Hopelik besorg Desert Storm die broodnodige internasionale deurbraak vir Imms Moses van die African Connection-­boksgimnasium in Windhoek, ná Julius Indongo se teleurstellende uitklopnederlaag in Florida.

Moses het aan Republikein gesê: “Hierdie geveg kan Lukas in die nommer 2-posisie op die IBF- en ­WBO-wêreldranglyste plaas. Ons verwag dat hy die geveg gemaklik gaan wen om vroeg volgende jaar 'n kans te kry om vir 'n wêreldtitel te veg.”

Die geveg sal regstreeks deur Fox PBC op die internet gestroom word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer