Dertig dapper spanne durf Trans Agulhas aan
Dertig dapper spanne durf Trans Agulhas aan

Dertig dapper spanne durf Trans Agulhas aan

Watersport
Andrew Poolman
Die wêreld se mees uitdagende rubberboot-wedvaart, die Trans Agulhas, begin vandag in Plettenbergbaai wanneer 30 spanne op 'n uitmergelende reis van bykans 700 km na die Strand vertrek.

Die Trans Agulhas word vanjaar vir die 29ste keer aangebied.

Johann Lodewyks en Flippie Schoeman (gemodifiseerde klas) was die algehele wenners van die vorige wedvaart en sal vanjaar weer hul titel verdedig.

Dié prestigeryke rubberboot-wedvaart was destyds die geesteskind van Sparks Esterhuyzen, wat vyf keer met 'n kano om die mees suidelike punt van Suid-Afrika geroei het, en Jean Engelbrecht van Stellenbosch.

Engelbrecht het lede van die Rubberboot-klub gevra of dit moontlik sal wees om die sowat 700 kilometer tussen Nature's Valley en Kaapstad met 'n rubberboot af te lê.

Só is die Trans Agulhas gebore. Die Burger het dit begin reël, maar min het hul daaraan gesteur, want almal het gesê dis te gevaarlik.

Altesame 33 bote het nietemin op 26 Desember 1988 by Nature's Valley vir die eerste uitdaagvaart weggespring.

Die eindpunt was op 3 Januarie 1989 op Hermanus. Almal het saamgestem dié gebeurtenis het gekom om te bly.

Die reëlingskomitee het uit vyf mense bestaan. Hulle het net twee voertuie gehad, waarvan een op Vleesbaai gebreek het.

• Daar word in vier klasse meegeding, naamlik die professionele klas, gemodifiseerde klas, standaard-klas en beginnersklas.



Program:

Vandag: Plettenbergbaai (via Nature's Valley) na Mosselbaai (188,5 km) – verwagte aankomstyd: 11:15.

Donderdag 29 Desember: Mosselbaai na Stilbaai (86 km) – verwagte aankomstyd: 09:26.

Vrydag 30 Desember: Stilbaai na Struisbaai (161 km) – verwagte aankomstyd: 10:42.

Saterdag 31 Desember: Struisbaai na Uilskraalmond (87 km) en Uilkraalsmond na Gansbaai (24 km) – verwagte aankomstyd by Uilkraalsmond: 10:16.

Sondag 1 Januarie: Gansbaai na Strand (131 km) – verwagte aankomstyd: 11:16.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer