DeChambeau bring dalk monster Meesters toe
DeChambeau bring dalk monster Meesters toe

DeChambeau bring dalk monster Meesters toe

Gholf
Bryson DeChambeau oorweeg dit om Donderdag die langste wettige dryfstok in die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi te laat klap.
Die Amerikaner wil ’n stok met ’n steel van byna 122 cm gebruik en dit kan lei tot die langste bofhoue wat nog in die toernooi gesien is.
DeChambeau is reeds met sy huidige “wapen” van 115 cm die man wat die bal die verste in die PGA-reeks slaan.
Hy peuter al ’n geruime tyd met die langer stok met die oog daarop om dit Donderdag in die Augusta National los te laat.
As hy dit wel doen, sal die spel straks nooit weer dieselfde wees nie.
“Ek het dit gister vir die eerste keer getoets,” het hy gesê.
“Ons het al minstens drie of vier tipe stele op die proef gestel en dit is die een wat sover die meeste belofte inhou,” het die Amerikaanse spiertier gesê.
Ek probeer hierdie week ’n dryfstok wat my dalk kan help om die bal nóg verder te moker.
“Ek het nie verwag dat dit sou werk nie, maar dit het, en ek is nog nie 100% seker of ek al daarmee moet speel nie, net omdat dit nog so ’n onbekende faktor is.”
Volgens hom sal hy dit wel gebruik as hy seker is dat dit sy spel sal verbeter.
Met ’n langer steel kan die speler meer spoed met die swaaislag genereer sodat die bal verder kan trek.
Min spelers oorweeg dit egter om ’n steel van 122 cm te gebruik, omdat dit moeiliker is om die bal daarmee met reëlmaat akkuraat te tref.
DeChambeau het gesê die top-spoed waarmee hy die bal al getref het, is 232 km/h. Buiten langdryf-kompetisies is dit ongehoord.
“Ek probeer elke dag vinniger en sterker word en ek probeer die bal so ver as moontlik slaan,” het hy gesê.
“Ek weet nie regtig waar dit alles gaan eindig nie. Maar ek slaan die bal nou verder as in die Amerikaanse Ope en ek probeer hierdie week ’n dryfstok wat my dalk kan help om die bal nóg verder te moker, so ons sal sien.”
Die 27-jarige DeChambeau het egter vinnig daarop gewys dat dit nie saak maak hoe ver hy die bal slaan nie, die res van sy spel moet steeds afgerond wees as hy Sondag die groen baadjie van die Meesters-wenner wil dra.
– Reuters, Netwerk24

FOTO
Bryson DeChambeau buig behoorlik die dryfstok soos hy op die bof oorhaal om die bal te moker. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer