• Tuisblad
  • Sport
  • De la Harpe kan land se toetskaptein nr. 29 word
De la Harpe kan land se toetskaptein nr. 29 word
De la Harpe kan land se toetskaptein nr. 29 word

De la Harpe kan land se toetskaptein nr. 29 word

'n Vuurdoop wag op die jong groep met ses potensiële toetsdebutante.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die senter Darryl de la Harpe (32) is as kaptein aangewys van die Namibiese nasionale rugbyspan vir sy toer na Rusland, Spanje en Portugal.

Die Namibiese groep vertrek Saterdagmiddag uit Windhoek en sal volgende week voorberei op die eerste toets teen Rusland in Sochi.

De la Harpe is een van die mees senior lede van die toer, met 44 toetse sedert sy debuut teen die einste Rusland in Windhoek in Januarie 2010.

Die FNB Western Suburbs-speler se 35 toetse as lid van die opdrafspan is die nasionale rekord in die senter-posisie – meer as Henning Snyman Junior (27), Corné Powell (25) en Johan Deysel (22).

Deysel is vroeër vanjaar deur afrigter Phil Davies tot kaptein bevorder vir die onoorwonne veldtog in die Rugby Afrika Goue Beker-reeks waarmee Namibië sy plek in aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan bespreek het.

Met Deysel wat hom vir die komende toer moes onttrek vanweë verpligtinge by sy nuwe Franse klub Colomiers, het Davies gister aangekondig dat De la Harpe as toerkaptein deur Rohan Kitshoff as onderkaptein aangevul sal word.

Kitshoff is in eie reg 'n geharde internasionale veteraan op flank, met 41 toetse agter sy naam sedert 2010, waarvan 12 as kaptein was.

“Die nasionale span se mikpunt oor die laaste drie jaar was nie net kwalifisering vir die Wêreldbeker nie, maar ook die ontwikkeling van spelersdiepte en om leiers in die hoëprestasiegroep te ontwikkel.

“Darryl en Rohan het Namibië vir 'n lang periode met onderskeiding verteenwoordig,” het Davies gister in 'n nuusverklaring gesê.



'LANDSTROTS IS ALTYD DAAR'

Saam met Chrysander Botha (54 toetse), die terugkerende Renaldo Bothma (15 toetse, vyf as kaptein) en Tjiuee Uanivi (26 toetse, twee as kaptein) beskik die groep steeds oor leiers met ondervinding – ondanks die feit dat onttrekkings vanweë klubverpligtinge en beserings die toerspan 'n veel meer jeugdige voorkoms as tydens die Afrika-toetse gee.

Davies, wat ook as Namibië se direkteur van rugby diens doen, het uitgewys dat voorbereiding vir die komende toer om verskeie redes gestagneer het. Die nasionale groep het geen kompeterende wedstryd sedert die Kenia-oorwinning op 18 Augustus gespeel nie, met deelname aan die Curriebeker Eerste Liga wat daarna gekanselleer is en 'n voorgenome toetswedstryd in Kenia wat ook deur die mat geval het.

“Ons bevind ons gevolglik voor 'n almagtige uitdaging teen Rusland en Spanje wat beide hoër as ons op die wêreldranglys is.”

Davies sien nietemin opgewonde uit om te sien watter spelers tydens die komende toer na vore tree.

“Die een ding wat ek weet jy altyd op kan staatmaak, is die ingesteldheid en landstrots wat na vore kom wanneer ons ouens die Namibiese rugbytrui aantrek. Ons sal dus elke uitdaging op die toer in 'n trotse, kompeterende, Namibiese manier tegemoet gaan.”



REALISTIESE DOELWITTE

Nadat Davies tevore die strewe verklaar het dat Namibië sy posisie op die wêreldranglys stelselmatig tydens die huidige Wêreldbeker-siklus moet verbeter, gee die verlies aan ondervinding vir die komende toer aanleiding tot groter realisme.

Volgens die afrigter is die eerste van die drie hoofdoelwitte van die toer nou om te sien hoe 'n paar ­uitstekende jong spelers hul komende vuurdoop hanteer.

Davies wil ook sy speelfilosofie van nuuts af tuisbring en momentum in toetsrugby genereer en wil sien dat Namibië in elk van die komende toetse “kompeterend” is.

Ná die toer sal op bestuursvlak 'n omvattende oorsig van die laaste drie jaar gedoen word om vir die nasionale span 'n gedetailleerde plan in die opbou na 'n suksesvolle Wêreldbeker op te stel.

Die toets teen Spanje word op 10 November in Madrid gespeel, voordat Portugal die volgende naweek in Lissabon wag. Rusland is egter die enigste opponent wat óók tot die 2019 Wêreldbeker deurgedring het.

Kommentaar

Republikein 2025-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer