De Grasse breek droogte
De Grasse breek droogte

De Grasse breek droogte

Olimpiese Spele
Wim Pretorius – Dit het byna 'n eeu geneem, 93 jaar om presies te wees, maar Kanada het in Andre de Grasse uiteindelik weer 'n Olimpiese 200 meter-kampioen.

Dié naelloper het gister in Tokio die vaandel by die Olimpiese legende Usain Bolt in dié nommer oorgeneem en die eerste Kanadees sedert Percy Williams in 1928 geword wat in dié nommer geseëvier het.

Nadat hy vir die soveelste keer in sy loopbaan in die 100 'n eerste plek op die wêreldverhoog misgeloop het, het hy sonder twyfel die soetste oorwinning van sy loopbaan behaal.

De Grasse moes diep delf met die twee Amerikaners Kenneth Bednarek en Noah Lyles op sy hakke, maar hy het net-net genoeg gehad om homself voor te kry in 'n wentyd van 19.62 sekondes, wat terloops die beste van sy loopbaan en boonop 'n nasionale rekord is.

Bednarek het self die vinnigste wedloop van sy lewe gehardloop (19.68) vir die silwermedalje, terwyl Lyles, wat vooraf wyd as die gunsteling beskou is, in 19.74 brons gewen het. Ná 120 m was hy nog voor.

Lyles het ook sy beste tyd van die seisoen geëwenaar.

Maar dis in Kanada waar die vreugdevure hoog sal brand.

De Grasse was derde in die 100 in Rio de Janeiro in 2016 en tweede in die 200 toe Usain Bolt goud verower het.

In 2017, enkele dae voor die wêreldkampioenskap in Londen, het De Grasse sy dyspier beseer en hy moes hom aan die byeenkoms onttrek, ten spyte daarvan dat hy destyds as 'n gunsteling geag is om vir Bolt in die 200 te klop.

Dié besering sou hom uiteindelik later ook uit 2018 se Statebondspele hou.

Hy moes in 2019 se wêreldkampioenskap in Doha weer in die 100 met brons tevrede wees en het toe silwer in die 200 gewen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer