• Tuisblad
  • Sake
  • De Beers: Diamantverkope ‘effens bo verwagting’
De Beers: Diamantverkope u2018effens bo verwagtingu2019
De Beers: Diamantverkope u2018effens bo verwagtingu2019

De Beers: Diamantverkope ‘effens bo verwagting’

Beter handelstoestande
Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - De Beers het in die afgelope maand sowat US$485 miljoen se ongeslypte diamante verkoop.

Bruce Cleaver, uitvoerende hoof van De Beers, sê die vraag na ongeslypte diamante toon die beter handelstoestande wat vergeleke met 2015 bestaan.

Volgens hom was die verkope effens bo verwagting gegewe die gewone vraag dié tyd van die jaar en omdat dit ’n korter as gewone tydperk is.

Dit is die minste diamante wat De Beers nog sedert die begin van die jaar in ’n verkoopsiklus verkoop het.

Die inligting is nie vergelykbaar met verlede jaar se verkope nie omdat dit die eerste keer in sy geskiedenis is dat De Beers inligting oor die waarde van die verkope van ongeslypte diamante publiseer.

Die verkoopstydperke is gewoonlik sowat vyf weke en hierdie een was sowat vier weke tot 3 Oktober.

Dit is 24% minder wat verkoop is vergeleke met die vorige verkoopstydperk wat 5 September geëindig het toe US$639 miljoen se dia­mante verkoop is.

Oleg Petropavlovskiy, ’n ontleder van BCS Financial Group in Moskou, het aan Bloomberg gesê dit is net laer maand tot maand oor die tydperk van die jaar. Volgens hom is dit “wesenlik hoër” as Augustus en Oktober verlede jaar.

De Beers het nou omtrent 30% van die mark vir ongeslypte diamante van 80% in die 1980’s.

Vooruitsigte

Verkope van ongeslypte diamante het baie swak gevaar in 2015 toe daar ’n hoër as gewenste voorraad diamante in die bedryf was.

Rapaport-groep wat oor die diamantbedryf verslag doen, sê De Beers verwag dat die res van 2016 en 2017 nie juis blink gaan wees nie.

De Beers het in die eerste helfte van die jaar sy verkope met 11% tot US$3,1 miljard verhoog. Dit het die maat­skappy gehelp om sy voorraad ongeslypte diamante te verminder wat verlede jaar opgebou is toe verkope nie goed gevaar het nie.

In September het De Beers in sy Insight-verslag bekend gemaak dat verkope aan vervaardigers met 30% in 2015 tot US$13,7 miljard geval het.

Die hoër as verwagte voorraad in die mark verlede jaar is toegeskryf aan skattings oor Chinese verbruikersvraag wat sterker was as wat beleef is en kleinhandelaars wat te veel voorraad gekoop het. Dit het druk op die pryse van geslypte diamante by groothandelaars veroorsaak.

Die bedryf het einde verlede jaar sekere stappe gedoen om die probleem te hanteer. Dit het ingesluit ’n groter bemarkingsveldtog in Kerstyd en die Chinese Nuwejaar, meer buigsaamheid in die verskaffingsooreenkomste met kopers, prysverlagings en die stappe wat diamantprodusente en diamantslypers gedoen het om die uitset van geslypte diamante op kort termyn te verlaag.

De Beers het in die vierde kwartaal van 2015 sy produksie met 16% verlaag.

Deursigtigheid

De Beers sê hulle het vanjaar vir die eerste keer begin om dié inligting te publiseer om “deursigtigheid in die diamantsektor te verhoog”.

Betroubaarder inligting oor verkope sal na verwagting die vertroue van beleggers in die bedryf verbeter.

Dit is die agtste verklaring vanjaar wat die maatskappye oor sy verkope uitgereik het. ’n Verklaring word aan die einde van elke verkoopstydperk uitgereik.

’n Verkoopsiklus strek van die einde van een vertoningsgeleentheid vir die partye wat kontrakhouers met De Beers is tot die volgende een. Dié besigtigingsgeleenthede duur gewoonlik ’n week lank.

Sowat 90% van sy diamante word só verkoop.

Daar word tien van die vertonings per jaar gehou wat elke verkoopstydperk amper vyf weke maak.

Die res van die verkope is per aanlyn veiling aan ’n wyer mark.

De Beers, wat deur Anglo American besit word, het tot dusver sedert die begin vanjaar met die eerste siklus US$4,68 miljard se diamante verkoop.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer