DBN trek hom niu00e9 voor, su00ea Amadhila
DBN trek hom niu00e9 voor, su00ea Amadhila

DBN trek hom nié voor, sê Amadhila

Tobias Amadhila is onlangs in mediaberigte daarvan beskuldig dat hy sy vrou se invloed gebruik om die terugbetalings­proses aan die staat se ontwikkelingsbank uit te rek.
Tuyeimo Haidula
Tuyeimo Haidula op Oshakati – Die sakeman mnr. Tobias Onesmus (Tona) Amadhila ontken dat hy voorkeurbehandeling by die Development Bank of Namibia (DBN) ontvang het rakende sy agterstallige lenings van N$180 miljoen, en sê hy het reeds ten minste N$49,1 miljoen van dié bedrag terugbetaal.

Amadhila – wat getroud is met die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila – is onlangs in media­berigte daarvan beskuldig dat hy sy vrou se invloed gebruik om die terugbetalingsproses aan die staat se ontwikkelingsbank uit te rek.

Hy het Maandag aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê hoewel sy sakebedrywighede 'n private kwessie is, het die berigte hom genoop om te reageer en “feitelike” inligting te verskaf.

“As 'n sakeman is ek ontstel deur die insinuasie dat my sakebedrywighede met die bank onder meer die gevolg is van voortrekkery weens die invloed wat my eggenoot na bewering op die bank uitoefen,” sê hy in 'n mediaverklaring wat Maandag uitgereik is.

Amadhila het gesê hy het die bank se finansiering slegs vir sakedoeleindes gebruik en nié om privaat wonings te laat bou soos in die media berig word nie.

“Tussen Maart 2014 en Maart 2016 het ek by die bank om finansiering van N$100 miljoen vir my onderneming, Outapi Shopping Center (PTY) Ltd, aansoek gedoen en die lening is toegestaan. Die lening was vir die bou van 'n winkelsentrum op Outapi, en is gedurende die konstruksietydperk van ongeveer twee jaar in vier dele voorgeskiet,” het hy gesê.



Lenings

Amadhila het gesê hy het gedurende Oktober 2014 nog 'n lening van N$4 miljoen by die bank uitgeneem, wat hy vir 'n konstruksietender gebruik het.

In Oktober 2017 het 'n vervaardigingsonderneming – waarvan hy 'n mede-eienaar is – 'n lening van N$40 miljoen gekry, wat gebruik is om 'n vervaardigingsonderneming oor te koop en te bedryf.

“Ek was ten alle tye – spesifiek ná my aanvanklike lening – in 'n goeie posisie by die bank met die verkryging van die daaropvolgende lenings,” het hy gesê.

Amadhila hou vol al hierdie lenings is op 'n deursigtige wyse en in ooreenstemming met die vereistes van die bank, insluitend al die kollaterale vereistes, bekom.

Hy het gesê hy het kollateraal van N$146 miljoen verskaf.

“Niemand het my voorgetrek in die proses om hierdie lenings te bekom nie.

“Ek veroordeel die kwaadwillige aantyging dat die DBN my voorkeurbehandeling gegee het, omdat die bank na bewering aan my vrou verslag doen of verslag gedoen het. Daar steek geen waarheid in só 'n stelling nie,” lui die verklaring.

The Namibian het ongeveer 'n week gelede berig die bank het tussen 2014 en 2020 verskeie lenings aan Amadhila toegestaan, waarvan N$180 miljoen agterstallig is.

Volgens die berig bestaan daar ook kommer dat die DBN voorkeurbehandeling aan Amadhila – teenoor ander kliënte – verleen deur nié teen hom op te tree nie.

Wat die uitgerekte terugbetaling betref, gee hy die “ekonomiese agteruitgang wat Namibië en ander lande die afgelope vyf jaar ervaar” die skuld. Hy sê dié kwessie is vererger deur die Covid-19-pandemie.

Amadhila het gesê ondanks die ongunstige ekonomiese toestande het hy getrou “maandelikse betalings op hierdie lenings gemaak en tot dusver 'n bedrag van N$49,1 miljoen terugbetaal”. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer