Dawie Roodt: Zexit is net die begin vir SA ekonomie
Hanlie Stadler - Hy's dalk weg, maar sy stank gaan nog lank in die lug hang nadat ons van hom vergeet het.
Só skryf Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group en 2016 se Ekonoom van die Jaar, in sy daaglikse ontleding van Suid-Afrikaanse markte oor Jacob Zuma se bedanking Woensdagaand as president.
Roodt sê die einde van Zuma se termyn “is net die begin van 'n proses om Suid-Afrika weer op koers te kry. Sy nalatenskap is een van beleidsverwarring, finansiële ruïnering, korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid. Die slegste van alles is dat hy 'n verdelende mag was en die rede vir die terugkeer van daardie gevoel van wanhopigheid.”
Roodt sê Cyril Ramaphosa, aangewese president, sal nou sy politieke mag moet konsolideer. “Dit beteken hy moet so gou as moontlik sy eie kabinet aanstel en dan geleidelik ander gekompromitteerde individue oor die lengte en breedte van die staat verwyder.” Roodt reken Ramaphosa moet sy “eie” minister van finansies kry, maar dis nie 'n goeie idee dat die begrotingsrede uitgestel word nie. Daarom is dit beter dat Malusi Gigaba maar Woensdag die begrotingsrede lewer. Dit beteken egter dit sal 'n “Zuma-begroting” wees, met al sy foute. Roodt hoop dat Ramaphosa se staatsrede – wat gister gelewer sou word – meer duidelikheid sou gee oor wat Ramaphosa as belangrik beskou en wat sy visie is. “Kom ons hoop ons kry 'n boodskap van vryheid, van dienslewering, van bevoegdheid en 'n algehele toewyding aan die welsyn van Suid-Afrikaners – almal van hulle.” Onsekerheid oor staatsondernemings, swart ekonomiese bemagtiging, eiendomsregte en arbeidsvraagstukke moet ook volgens hom uit die weg geruim word.
“Moet geen fout maak nie: Die Zuma-administrasie het enorme skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aangerig en dit sal letterlik jare verg om die skade te herstel.” Roodt spreek sy vertroue in Ramaphosa uit en doen 'n beroep op hom om sy mag te gebruik om die regte dinge te doen.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie