Dawie Roodt: Wees voorbereid op onsekerheid

‘Stabiliteit skep eie onstabiliteit’

11 September 2018 | Ekonomie
Dawie Roodt – Ek word gereeld gevra hoe lank Suid-Afrika nog kan uithou, of hoe lank voor die markte val, of hoe lank voor goud $10 000 per fynons haal, of wanneer die volgende wêreldoorlog gaan uitbreek . . .

Ek weet natuurlik nie en niemand anders weet ook nie.

Dit is gewoonlik een of ander verwagte groot ramp waaroor mense uitvra. Suid-Afrika gaan byvoorbeeld dramaties “in duie stort”, of die finansiële markte gaan rampspoedig “duik”.

Dié verwagte rampe word gekenmerk deur die omvang van die krisis (dis erg) sowel as die tempo (vinnig) waarteen dit gebeur.

Daar is nogal baie teorieë wat sulke dramatiese gebeure beskryf. Die Abelse sandhoop is so ’n voorbeeld.

In die Abelse sandhoop word sandkorrels een vir een en onreëlmatig op ’n hoop gegooi. Die sandhoop word geleidelik al hoe groter, tot op ’n sekere punt wanneer ’n gedeelte van die sandhoop ineenstort. Hierdie ineenstorting kan “oorspoel” na ’n aangrensende kritieke gedeelte van die sandhoop waar ’n tweede en verdere ineenstortings kan plaasvind.

’n Kritieke toestand is ’n stand van ewewig wat onstabiel is. Byvoorbeeld, teen 100 °C is water in ’n kritieke stand en kan dit deur ’n geringe versteuring in stoom verander. Die punt van die sandhoop-teorie is dat ’n dinamiese omgewing geleidelik al hoe meer kritiek raak namate meer sandkorrels tot die hoop toegevoeg word.

Net nog één sandkorrel

Net nog één sandkorrel kan aanleiding gee tot ’n verskuiwing in die sandhoop. Hierdie verskuiwing kan groot of klein wees en kan ook aangrensende sandformasies beïnvloed.

Enige komplekse stelsels soos die finansiële markte of politieke stelsels kan net soos die Abelse sandhoop reageer en dit is bykans onmoontlik om te voorspel watter sandkorrel of oorsaak watter reaksie tot gevolg sal hê.

’n Tweede stukkie insig kom van die Amerikaanse ekonoom Hyman Minsky. Minsky sê stabiliteit skep sy eie onstabiliteit. Eenvoudig gestel, hoe langer ’n stelsel stabiel bly, hoe groter is die uiteindelike verandering wanneer dit plaasvind.

Vergelyk dit met die volgende: Gereelde sneeustortings word doelbewus veroorsaak om te verhoed dat te veel sneeu versamel wat uiteindelik tot ’n groot en meer skadelike sneeustorting kan lei. Of, dis beter om gereeld kleiner aardbewings te beleef as om ongereeld groot en vernietigende aardbewings te beleef.

Dus, hoe langer ’n stelsel (die markte) sonder groot regstellings bestaan, hoe groter is die uiteindelike krisis.

Minsky se teorie maak intuïtief nogal sin. Die finansiële krisis van 2007 was hoofsaaklik ’n skuldkrisis. Sedertdien het rentekoerse skerp gedaal en het mense, ondernemings en regerings stadigaan al hoe meer skuld begin aangaan. Vandag is die totale uitstaande skuld baie meer as voor die finansiële krisis. Dit is ’n tipiese Minsky-verloop: Ons leen meer en niks gebeur nie, ons leen dan nog meer en steeds gebeur niks, totdat daar eendag iets gebeur . . . Stabiliteit skep sy eie onstabiliteit.

’n Derde stukkie insig kom van die Nobelpryswenner John Nash (van A Beautiful Mind-faam). Die Nash-ewewig is ’n toestand waar twee (of meer) rolspelers nie hulle eie posisie kan verbeter sonder om die ander rolspeler se posisie te verswak nie. Hoewel die Nash-ewewig nie noodwendig optimaal is nie, is dit tog ’n redelik stabiele stand van sake.

Waar laat al hierdie teorieë ons?

Die afgelope tien jaar het die wêreld se finansiële markte ongekende voorspoed beleef. Ons is tans steeds deel van die grootste bulmark in die geskiedenis. In hierdie tyd was daar min werklike krisisse terwyl ons onverpoosd aangehou het om sandkorrels op die sandhoop te strooi. Ons het dus ’n lang tydperk van stabiliteit wat volgens Minsky uiteindelik tot ’n onstabiele toestand sal lei.

Intussen het die sandhoop so hoog opgehoop dat daar al hoe meer tekens is dat dit in ’n kritieke stand is. Dit beteken selfs ’n klein sandkorreltjie op die verkeerde plek kan ’n gedeelte van die sandhoop ineen laat stort terwyl dit ook die aangrensende gedeeltes van die sandhoop kan raak.

En daar is baie moontlike sandkorreltjies wat die spulletjie ineen kan laat stort: ’n kredietkrisis in China, studentelenings in die VSA, rentekoersverhogings deur die Amerikaanse Federale Reserweraad, ’n politieke krisis in die Europese Unie – die lys is lank.

Niemand weet watter korreltjie die proses aan die gang gaan sit nie.

Daar is nog ander ewewigte wat versteur word wat veral aan Nash-ewewigte herinner. Die vryhandelsooreenkomste tussen die VSA en baie ander lande is miskien nie volmaak nie, maar dit is tog ewewigte.

Pres. Donald Trump versteur hierdie ewewigte deur invoerheffings teen hierdie lande in te stel. Soms lei dit tot ’n beter ewewig, soos die handelsooreenkoms tussen Mexiko en die VSA, en in ander gevalle kan dit tot groter onstabiliteit lei.

Hoe dit ook al sy, internasionaal en plaaslik is daar heelwat stelsels wat toenemend kritiek raak. Plaaslik is ons politieke en ekonomiese stelsel op ’n naaldpunt en ’n sandkorreltjie op die verkeerde plek kan die spulletjie ineen laat stort.

Onder sulke omstandighede is dit belangrik om op die volgende ag te slaan:

· Wees op hoogte van wat aangaan.

· Identifiseer waar moontlike risiko’s is wat jou bedreig en bestuur hierdie risiko’s so goed moontlik.

· Onthou dat die gebeurtenis wat tot onstabiliteit lei is nie noodwendig iets is wat jy verwag nie. Dit kan uit ’n totaal onverwagte oord kom.

· Sorg dat jou beleggings behoorlik gediversifiseer is.

· Moenie dat vrees jou verlam nie. Moenie onder die bed wegkruip nie, want dis dalk net daar waar die poltergees skuil.

· Wees waaksaam.

· Maar die belangrikste les is dat komplekse stelsels . . . wel, kompleks is. Teorieë en ondervinding kan ons dalk ’n beter insig in die politiek, markte of die lewe gee. Maar geen mens of rekenaar het die vermoë om die toekoms korrek te voorspel nie – daarvoor is daar eenvoudig te veel veranderlikes

En wie weet, dalk is Suid-Afrika steeds die beste plek om nou te wees . . .

· Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Krisis met toetse vir hondsdolheid

12 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Namibië staar ’n nasionale krisis in die gesig aangesien geen toetse vir hondsdolheid tans by die sentrale veeartsenylaboratorium in Windhoek gedoen kan word nie. Dr....

Prins William is hier

12 ure gelede | Plaaslik

Francoise Steynberg - Prins William van Brittanje is in Namibië om die internasionale gemeenskap se oë op Namibië se ikoniese spesie, die swartrenoster, te vestig....

EES kook op Duitse X-Factor

12 ure gelede | Kuns en vermaak

Tanja BauseDie Namibiese kwaitokunstenaar EES het na die finale regstreekse uitsending van X-Factor Duitsland deurgedring. EES en sy Yes-Ja!-band werk tans hard daaraan om hulself...

Vermeende stroper doodgeskiet

12 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause – Daar word beweer die 73-jarige eienaar van die plaas Senderling by Kamanjab het Saterdag om 11:30 die Angolese burger mnr. Tuayunda Mbwale...

Weer vir 25 September

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Hittegolftoestande sal na verwagting oor die noordelike streke voortduur.BINNELAND: Mooiweer en baie warm in die verre Noord- en Suidweste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

Laughter is the best medicine

12 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – It’s contagious and good medicine – not only for the body, but for the mind and soul as well. It lightens your...

Smelling the roses is not just a pipe dream

12 ure gelede | Gesondheid

In today’s rat race it’s easy to lose your way in the daily grind while trying to keep your head above water. Our responsibilities as...

Een maand ná Avihe

12 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Me. Jessica Kaimu, ousus van die vermoorde Avihe Ujaha, sê die familie probeer steeds hul voete vind ná die tragedie wat die...

Elizabeth Bay-myn se dae getal

12 ure gelede | Plaaslik

Ogone Tlhage – Produksie by Namdeb se Elizabeth Bay-myn wat aan die begin van die jaar te koop aangebied is, is intussen gestaak terwyl diamante...