Dawie Roodt se vier wenke vir boere
Vida Booysen - Daar is maniere waarop boere hul risiko weens onsekerheid oor die regering se grondhervormingsplanne kan versprei of probeer beperk, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.
Veral groter boerdery-ondernemings is bekommerd oor die skielike aankondiging oor grondplafonne wat mnr. Gugile Nkwinti, Suid-Afrika se minister van grondsake, op 8 Mei in sy begrotingsrede gedoen het en wat perke van 1 000 ha vir klein boerderye, 2 500 ha vir middelslag-boerderye en 5 000 ha vir groot boerderye plaas.
Verder heers ook onsekerheid oor die 50/50-voorstel deur die regering ingevolge waarvan boere 50% van hul plase aan plaaswerkers sal moet oordra.
Sulke voorstelle het ingrypende gevolge vir die finansiering van bedrywighede op plase omdat die grond as sekuriteit vir die skuld aangebied word.
Roodt stel voor:
1. Kry ’n vennoot wat die risiko kan help dra.
“Maak net seker die somme klop en jou vennootskap maak sakesin.”
2. Registreer die plaas in ’n regstruktuur se naam.
Die plaas moenie in ’n individu se naam wees nie, maar in ’n regstruktuur soos ’n maatskappy of ’n trust.
“Noteer ’n groot boerdery-onderneming of kry private aandeelhouers wat die risiko kan help dra.”
3. Huur grond.
Dit het dalk meer sakesin om grond te huur as om dit te besit.
“Dit is soos ’n fabriek, waar die bedryf van die aanleg meer saak maak as die stuk grond waarop dit is. Dit gaan oor jou kennis, vaardighede en vermoë om ’n boerdery winsgewend te bedryf, nie oor die grond nie.”
4. Beperk indiensneming.
Boere moet so min moontlik mense in diens neem omdat hulle dan “minder blootgestel is aan die politieke winde wat tans waai”.
Uit inligting wat die departement van landbou einde 2014 beskikbaar gestel het, blyk die waarde van landbougrond R192 miljard te beloop, met die primêre landbou se skuld wat tussen R117 miljard en R122 miljard is.
As jy aanvaar dat grond as sekuriteit aangebied is, beteken dit dat tot 63% van grond wat vir herverdeling aangebied word, nie aan die boere nie, maar aan die landboufinansiers van Suid-Afrika behoort.
In die jongste nuusbrief van Vrystaat Landbou sê Brienne van der Walt, hoof van Agribesigheid by Barclays Africa en Absa, inmenging by private eiendomsreg en die markwaarde van grond kan lei tot vermindering of onttrekking van finansiers.
Hulle verwerp die 50/50-voorstel geheel en al. “Dit is nie teoreties of prakties werkbaar nie; nie vir die boer nie, nie vir finansiers nie, en die voordele vir plaaswerkers sal kortstondig wees.
“Banke kan nie finansiering toestaan teen grond wat nie as sekuriteit aangebied kan word nie.”
-Volksblad/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie