Dawie Roodt: Kom ons hoop ANC hoor nie hiervan
Die idee is dat die regering geld skep en bestee totdat inflasie ’n probleem word.
Dawie Roodt – Dit is nogal vreemd dat die nuwe ekonomiese gier wat bekend staan as Moderne Monetêre Teorie (MMT) nog nie veel aandag in Suid-Afrika kry nie.
Ons politieke leiers is nogal bekend daarvoor dat hulle meestal ’n spul ekonomiese analfabete is en gevolglik sou ’n mens nogal verwag dat MMT hier ook byval sou vind. Maar dalk is dit net ’n kwessie van tyd.
Dit is veral in Amerika waar MMT deesdae ’n warm onderwerp is, veral onder politici links van die politieke spektrum. Die nuwe sosialistiese liefling van die Demokratiese Party, Alexandria Ocasio-Cortez, byvoorbeeld, reken MMT moet deel van die “debat” vorm. Hierdie “debat” gaan oor waar die geld vandaan gaan kom om vir al haar voorgestelde staatsbesteding te betaal.
Maar wat is MMT en hoe verskil dit van “gewone” ekonomiese beleid?
Maar voor ek by MMT uitkom, eers ’n (oor-)vereenvoudigde verduideliking van hoe fiskale en monetêre beleid tans “werk”.
Teorieë
Fiskale beleid is die proses waardeur belastings gehef word om staatsuitgawes te finansier. Indien staatsinkomstes onvoldoende is om die staat se uitgawes te finansier, leen die staat eenvoudig nog geld deur staatskuld-instrumente te “verkoop”.
Die verskil tussen die staat se besteding en inkomste staan bekend as die fiskale tekort en namate die staat oor tyd meer en meer leen, neem sy skuld en renteverpligting ook toe.
Maar hierdie staatskuldinstrumente beland gereeld by banke wat dit gebruik as sekuriteit om by die sentrale bank geld te leen. Die sentrale bank skep nuwe geld en gee dit aan die bank wat die geld dan weer aan sy kliënte kan uitleen. Ten einde te verseker dat te veel geld nie in die proses geskep word wat tot inflasie sal lei nie, “beheer” die sentrale bank die hoeveel geld wat by hom geleen word deur die prys van geld aan banke, die terugkoopkoers in ons geval, te verhoog of te verlaag.
MMT keer hierdie proses op sy kop. Dit werk so: in stede daarvan om belastings en lenings te gebruik om sy uitgawes te finansier, gee die staat eenvoudig opdrag aan die sentrale bank om genoeg geld te skep en aan die staat te gee om hom in staat te stel om vir sy uitgawes te betaal.
Die staat (sentrale bank) skep dus eenvoudig meer geld en bestee dit, en is nie van belastingontvangste afhanklik om sy uitgawes te finansier nie.
In kort, MMT stel voor die regering skep geld en bestee totdat inflasie ’n probleem word. Daarna word belastings en lenings gebruik om die likiditeit te onttrek totdat inflasie nie meer ’n probleem is nie. ’n Mengsel van fiskale beleid en geldskepping word dus gebruik om die “korrekte” geldvoorraad te handhaaf en inflasie is die maatstaf wat bepaal of die geldvoorraad korrek is.
Voordele
Die ondersteuners van MMT het goeie argumente waarom hulle dink hul idees sal werk. Hulle verwys byvoorbeeld na onlangse gevalle waar die wêreld se groot sentrale banke miljarde dollars, jens en euro’s geskep het en finansiële bates daarmee aangekoop het in ’n proses wat bekend is as hoeveelheidsverruiming (quantitative easing).
Verder is rentekoerse in gevalle selfs tot laer as 0% verlaag. Ondanks hierdie geweldige monetêre stimulasie is inflasie steeds nie ’n probleem in plekke soos Amerika, Europa en Japan nie. Indien geskepte geld gebruik kan word om finansiële bates te koop sonder dat inflasie ’n probleem word, kan geskepte geld sekerlik ook gebruik word om ander staatsuitgawes te finansier?
En MMT het ander voordele ook. Die dag wanneer belastings wel ingestel word om “oortollige” geld uit die stelsel te onttrek, kan hierdie belastings terselfdertyd gebruik word om ander euwels te beveg, soos ongelykheid, monopolievorming, besoedelaars en ’n spul ander sosiale en politieke doelwitte.
Nadele
Die idees van MMT maak moontlik teoreties sin, maar een of twee sterk argumente daarteen is ook geldig. Dit is te betwyfel of politici wel die moed sal hê om belastings (betyds) in te stel om geld uit die stelsel te onttrek wanneer inflasie wel sy opwagting maak.
Nog ’n argument is dat sentrale banke die prys van geld (rentekoerse) gebruik om die “korrekte” geldvoorraad te handhaaf. Met MMT sal die prys van geld onvermydelik tot 0% afgedwing word, wat groot implikasies vir die finansiële markte en veranderlikes soos spaarkoerse sal hê.
Maar die enkele grootste gevaar is dat in die huidige stelsel dit sentrale banke is wat besluit om staatskuld in geld te “verander” en nie politici nie. Met MMT besluit politici van meet af aan om regstreeks geld te “maak”. En dit is reeds die feit dat diegene wat die geld “maak” (die sentrale bank) en diegene wat die geld uitgee (politici) verskillende mense is wat sorg dat ons steeds vertroue in geld het. Sodra die persoon wat die geld maak en die persoon wat die geld uitgee dieselfde persoon is, is die onvermydelike gevolg altyd die vernietiging van ’n geldeenheid deur inflasie.
Nou weet ons waarom die ANC so graag die Reserwebank wil nasionaliseer. Kom ons hoop maar hulle hoor ook nie van MMT nie . . .
· Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient Groep en vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie