Danny Boy g'n seun meer nie
Danny Boy g'n seun meer nie

Danny Boy g'n seun meer nie

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 31-jarige Albinius (Danny Boy) Felesianu van Swakopmund het Vrydagaand by die Portugese saal in Turffontein, Johannesburg met gemak daarin geslaag om Willis Baloyi (Suid-Afrika) eenparig met punte oor ses rondes te verniel.

Felesianu is tans die Internasionale Boksfederasie (IBF) se kontinentale Afrika-liggewigkampioen. Dié vakante titel het hy verlede jaar op 28 Julie by The Dome in Swakopmund teen Jonas Segu van Tanzanië opgeraap. Felesianu het die ontmoeting eenparig met punte beklink.

Felesianu se rekord staan ná Vrydagaand se oorwinning op 20 gevegte, 17 oorwinnings wat sewe uitklophoue insluit asook twee nederlae en een gelykopuitslag.

Theo Botes, wat Danny Boy in Suid-Afrika afrig wanneer hy daar is, het aan Republikein van Felesianu se geveg vertel.

“Danny het 'n uitstekende geveg gehad waar hy vanaf die eerste ronde in beheer van sake was en al die rondes eenparig met punte gewen het. Hy het sy opstoppers en haakhoue baie goed gebruik en het beslis met sy hoë houetempo beïndruk.

“Hy luister goed na raad uit sy hoek en verdien dié oorwinning terdeë,” het Botes laat weet.

Felesianu wat op 20 Maart 2007 sy debuut as beroepsbokser gemaak het, het die geveg met 58-56, 59-55 en 58-56 oorheers. Met dié uitslag agter die rug kan met oortuiging gesê word dat sy voorbereiding saam met die Kalakoda-stal verloop tans vlot.

Danny Boy se plan is om vir 'n IBF interkontinentale titelgeveg deur die toue te klim wat Augustusmaand in Swakopmund by The Dome beplan word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer