‘Dankie vir genetiese verbetering’
Sigi von Lüttwitz lig sy hoed vir telers se toewyding.
Ronelle Rademeyer - Die voorsitter van die beeskomitee is ’n man wat vir meer as vier dekades by die Windhoek Skou betrokke is, waarvan hy die laaste 15 jaar aan die stuur van dié komitee staan.
Sigi von Lüttwitz het geen bekendstelling nodig nie, want buiten sy administratiewe taak is hy self ook ’n gerekende teler. “Vanjaar is die eerste jaar wat ek nie self beeste vertoon nie,” vertel hy.
Parade het op die vooraand van die skou met hom gesels oor sy boodskap aan die telers.
“Ek wil eerstens baie dankie sê aan ons telers wat oor die jare die skou ondersteun het en só bewys lewer van die genetiese verbetering van die nasionale kudde in die land.
“Hulle doen dit ondanks uitdagings soos droogtes, veldbrande, die ongelooflike toename in vee- en wilddiefstal, die regstelsel wat ons soms die idee gee hulle beskerm die booswigte deur keer op keer borgtog toe te staan, en ander struikelblokke in die vleisbedryf.”
Dié struikelblokke is volgens hom die naspeurbaarheidstelsel (NamLits) wat destyds aan boere verkoop is as die “perfekte stelsel” wat dit sal moontlik maak vir die eindverbruiker om die vleis op sy bord terug te spoor tot op die plaas waar dit geproduseer is.
Hy sê dit het nie gebeur nie en die premie wat aan boere beloof is, het ook nie gerealiseer nie. “Inteendeel, die stelsel plaas ’n groot administratiewe las op boere vanweë die baie papierwerk. Ons prysvasstelling geskied steeds volgens die Suid-Afrikaanse prys waar produsente groeihormone en antibiotika ensovoorts mag gebruik.
“Die ander struikelblok is Meatco, wat nie meer die mandaat wat sy lede, die produsente, hom gegee het, uitvoer nie. Meatco het die vertroue van sy getroue, lojale leweransiers verloor en dit gaan baie moeilik wees om dit terug te kry,” sê Von Lüttwitz.
“Aan die kleinveekant het die Kleinveebevarkingskema boere tot op die rand van bankkrotskap gebring. En ja, ek noem dit ’n bevarkingskema en nie ’n bemarkingskema nie aangesien die produsente daardeur ingedoen word.”
Hy sê dit is teen hierdie agtergrond wat hy die telers van stoetvee in Namibië wil bedank, want dit toon hulle toewyding.
“Ek wil vir die telers baie dankie sê vir die passie, toegewydheid, harde werk en dissipline wat hulle jaar na jaar laat terugkeer na die skou. Ons salueer julle met die hoed in die hand.”
Von Lüttwitz sê hy is ewe dankbaar vir die lede van die beeskomitee wat vrywillig hulle tyd afstaan en hard werk om van die skou ’n sukses te maak.
Laastens bedank hy ook die beoordelaars sonder wie die skou onmoontlik sou wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie