Dankie tog ek is nie meer 'n student
Dankie tog ek is nie meer 'n student

Dankie tog ek is nie meer 'n student

Francoise Steynberg
My ma sê ek moet dankbaar wees dat ek nie meer 'n student is nie. My ma sê ook ek moet dankbaar wees dat ek nie kinders het nie.

My ma is 'n wyse vrou. Ek is bly ek is nie meer 'n student nie, veral nie in Suid-Afrika waar chaos tans op die kampusse heers nie. Baie van my vriende se kinders is nou studente en bekommer hulle oor die toestande daar.

Vandag presies 26 jaar gelede het ek 21 jaar oud geword en was ek 'n liberale, politieke wetenskapstudent op die Puk, toe nog die Potchefstroomse Universiteit van Christelike Hoër Onderwys. Ek was 'n vaal boekwurm, nog baie naïef en glad nie straatwys nie.

Twee weke daarna was ek op pad na 'n 21ste verjaardagpartytjie van 'n bekende, lang rugbyspeler (wat ek nie geken het nie) daar doer in die Bosveld by Swartwater. Ons ry in 'n bakkie wat net in tweede en vierde rat kan ry.

Op Rustenburg het die lang rugbyspeler en sy meisie 'n lelike uitval voor ons almal gehad en sy het hom net daar afgesê. Op Thabazimbi het my metgesel wat my saamgenooi het, toe al lekker onder die brandewynprop, vir die petroljoggie gesê om petrol in die dieselbakkie te gooi. Toe my metgesel boonop rassistiese aanmerkings teenoor die petroljoggie maak, het ek hom soos 'n warm patat gelos. Dit kom nou van brandewyn wat nie brieke het nie!

Dit was op die ou end een van die wonderlikste naweke in my lewe. Ek en die lang rugbyspeler het langs 'n uitgeholde waatlemoen gevul met 'n gevaarlike konkoksie flikkers vir mekaar gegooi en hy het my voete onder my uitgeslaan.

Van daardie naweek af het my lewe op universiteit 'n ommeswaai gehad. Ek het saam met die lang rugbyspeler van die vaal boekwurm tot 'n vrolike sosiale vlinder ontpop en wonderlike tye saam met hom gehad.

Toe ek hom in Julie vanjaar vir die eerste keer weer ná dekades sien, het die tyd tussen ons net weggeval en hy maak steeds my knieë lam.

Ons het onlangs weer 'n draai op ons ou studentedorp gaan maak en die Aardklop Kunstefees bygewoon. Dit was omtrent 'n vrolike ­Puk-reünie saam met ou studentevriende.

Die Bult het nou meer as net 'n Insleep Kafee en 'n Uitsleep Kafee. Daar is nou hope moderne restaurante en koffiewinkels en ek wonder waar kry studente geld om soesji te eet. Ek moes in die Drakenstein-restaurant op die Puk vir sakgeld en kos werk.

My woonstelblok Oude Molen agter die Bult lyk nog presies dieselfde. By Aardklop het ek weer 'n bier gedrink soos toe ek 'n student was.

Ons het gaan kyk hoe lyk ons ou kuierplek op die Bult, Bourbon Street. Ons loop selfs Bourbon se eienaar, George, daar raak. Gelukkig onthou hy my nie, wat beteken ek het nie te veel skandes daar aangejaag nie.

Vir 'n oomblik het ek weer soos 'n Puk-student gevoel en onthou hoe ek op die houttafels gedans het, hoe vrolik ek karaoke op die verhoog gesing het en hoe ek en die lang rugbyspeler vir mekaar gekoekeloer het.

Tog lyk Bourbon Street heel anders. Dit voel heel anders.

Ons het goed geweet ons is lankal nie meer studente nie toe die kelner vir my lang rugbyspeler vra: “Oom, wil oom 'n bier hê?”

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer