Dankie, c. johan bakkes
Ek is nie slim genoeg om storietjies uit te dink nie – alles wat hier staan, is die reine waarheid, gesien deur my eie oë. Dis hoe dit moet wees, want dis die lewe . . .
Ek strompel ewe sleepvoet en keelvol by die klas in. ’n Vuurpeloton van vyf-en-dertig vraagtekenoë is op my gerig. My mond raak droog, my hande begin sweet, en ek besef hoe dit moet voel om die dood in die gesig te kyk. Skielik wonder ek hoe ek vir hulle moet lyk. Verstrooid en verwilderd, seker. Dis wat ’n gehardloop deur hierdie doolhofskool aan ’n meisie doen, antwoord ek verskonend, ook met my oë. Maar ek kry geen reaksie uit hulle nie, en laat sak maar my kop sodat my vaalblonde kuifie in ’n beskermende gordyn voor my gesig verander.
Die juffroutjie is fyn en klein, maar nogtans pragtigmooi, popmooi. Haar oë is groot en helder, perfek ingekleur en omlyn. Sy het pienk bolletjiewange - te veel blos. Sneeuwitjie-hare val blink oor haar rug, soos ’n magtige waterval, soos die Vic Falls. Sy stel haarself voor, en ten spyte van haar heuningstem vergeet ek haar naam so vinnig as wat sy dit gesê het. Al waaraan ek kan dink, is die feit dat hierdie vrou vir my Afrikaans gaan gee. En dit bekommer my.
Sien, woorde, boeke, tale, Afrikaans . . . dis waarvoor ek lewe. Dis waarop ek lewe. Dis hoekom ek nog lewe.
Ek het nog altyd graag gelees, dit was my manier om te ontsnap. Miskien van realiteite. Ek kon myself in ’n storie inlees. Boeke was vriende wat altyd daar sou wees, wat jou nie versaak nie.
Nou is ek vasgevang in ’n nagmerrie, of ’n dagmerrie eerder. ’n Bitter goeie storie gaan nodig wees om my van hierdie realiteit te onttrek. Nadine se gedig maak onverwags, maar tog op die regte tyd, sy verskyning van waar dit agter in my kop ingegraveer is, en skielik weet ek waar my bekommernis vandaan kom.
Sprei die vlerke van jou suggestie
as jy my geleer het hoe om lief te wees vir my moedertaal.
Dalk is dit net ’n aaklige stereotipe, maar ek dink nie jong juffrouens kan enigiemand van Liefde leer nie. Nog minder van Liefde vir hulle moedertaal. ’n Behoorlike, ordentlike taalonderwyser moet, volgens my, darem ’n bietjie meer gevorderd in jare wees. Hulle moet ervaring hê van die lewe, van sy draaie en kronkels, van iets so eenvoudig soos asemhaling, en van die dood, van pyn, en die heel belangrikste, van tieners.
Hulle is die vrou wat haar gesig met niks anders as passie opmaak nie. Hulle is die deurmekaarkopkunstenaar wat met die vuur in sy oë daardie selfde passie in honderde kinders aan die brand steek. Hulle is ek en jy – ons, die oopkopkinders wat Koos Kombuis én Ingrid Jonker én Totius kan lees, en dit alles ewe veel kan geniet. Ons is die toekomsdiamante, en hulle is ons slypskool.
My venstersitplek bied darem ’n mooi uitsig, ’n silwer rantjie om die donker wolk, ’n liggie in die donker. Die grasperk gee nuwe betekenis aan die intensiewe vorm “grasgroen”. Taai pers blommetjies is oor die hele wêreld gestrooi. Die juffrou se gebabbel – die gezoem van die bye wat ek daar buite sien rondvlieg. Voëlvry. Dis verlammend mooi – nie dat ek enigiets minder van Pretoria verwag het nie. Maar Pretoria is darem nou nog steeds nie regtig Windhoek nie.
Ek is die duinkonyn, die woestynadder, die Namib-olifant, en ek hoort nie hier nie. Ek is die nimmereindigende rooi vlakte, bedek met blonde gras wat soos hare in die wind waai. As ek maar vroeër geweet het dat Namibgras ook groen kan wees as dit water kry, sou ek nooit my plaaslewe vir hierdie superskool te verruil nie. 1 500 km ver. Maar dís nou my realiteit, die wêreld wat ek vir myself gekies het.
Ek skeur my kop met moeite weg van die olieskildery buite die venster. Terug na die my bank. Daarop het ’n dun boekie verskyn – iemand het dit seker hier neergesit terwyl ek vasgevang was in een van my vele dagdrome.
moer toe die vreemde in – c. johan bakkes
Ek tel die boek op, nuuskierig. Die buiteblad is so mooi dat dit my lus maak om die boek te raam en teen my vervelige koshuismuur vas te spyker. Die onderste helfte van die bladsy is met ’n wit sandvlakte oorgetrek, en in die middel van hierdie groot niks lê die moeë oorblyfsels van ’n Welwitschia Mirabilis, ’n lewende fossiel. Bo hierdie groot niks steek die onheilspellende grysblou aandlug van die woestyn uit, en daar ver, asof tussen duim en wysvinger, asof tussen die sandvlakte en die atmosfeer vasgeknyp, stap ’n mannetjie met sy rug na my toe.
Dit alles lyk bekend, té bekend. ’n Opgewondenheid pak my beet, verligting spoel oor my, soos ’n warm stort na ’n harde werksdag op die plaas. Haastig ruk ek die boek oop, en begin lees.
Vir al my reisgenote
Vir vyftien jaar, jaarin, jaaruit, neem ek groepe mense deur die Visrivierskeurvallei in die suide van Namibië. Dis ’n besondere plek wat net met swaarkry en op eie stoom beleef kan word. Nêrens in my wêreld is die lug so blou nie. Nêrens is die sterre so helder nie. Nêrens is die kleurgooi van die sakkende son so mooi nie. Die spookagtige maanligstrepe teen die ruwe kranse laat ’n mens Middeleeuse kastele en ridders te perd droom.
Die klok lui, ruk my terug na die werklikheid. Ek gryp my boeke en stop hulle haastig in my tas. Dalk gaan hierdie tog nie so ’n slegte jaar wees nie . . . Ek is darem nie alleen moer toe die vreemde in nie. c. johan bakkes is mos saam met my. Hy vat my huistoe. Keer op keer, weer en weer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie