Dankbaar vir die reu00ebn
Dankbaar vir die reu00ebn

Dankbaar vir die reën

Tanja Bause
Tanja Bause - Dié land van ons is baie dankbaar.

Skaars ’n week nadat die eerste druppels geval het, begin die groen oral kop uitsteek. Die bosse en doringbome lyk groener en nee, dit is nie net omdat die stof afgewas is nie. Ek is seker as jy onder ’n boom gaan sit en luister, sal jy hom hoor sing.

Ook op die grond begin die groen mat kop uitsteek en dit sal nie meer lank wees nie voordat die geel blomme van die duwweltjies oral langs die paaie mense se harte bly maak.

Want net so dankbaar soos die land vir elke druppel is, is ons Namibiërs dankbaar. Toe die eerste bui hier in Eros by die kantoor neerval en die eerste donderslag gehoor is, was die kantoor in ’n oogwink leeg. Almal het buite gaan staan. Sommige het selfs plat op die grond gaan sit en hul gesig en hande na bo gestrek.

Ek is oortuig dat my kollegas nie die uitsondering daai dag in Windhoek was nie. Ek glo dat mense oral in die land buite gaan staan het en dat talle selfs ’n klein reëndansie gedoen het.

Met elke druppel wat val, verander mense se gemoed. Almal glimlag, maak grappies, niemand is kwaad nie en ’n gevoel van verligting hang in die lug. Oud en jonk jubel, en waar jy ook al gaan, praat mense net oor reën en hoeveel dit hier en daar geval het.

Skielik maak dit nie meer saak om iewers in ’n lang ry te staan en wag nie, want ons almal het een tema waaroor ons kan praat. Daar word gevra: Het die Noorde reën gekry, hoe lyk dit in die Suide, ek hoor die damme by Gobabis het water gekry?

Net so is ons almal verenig in iets wat ons almal raak, en iets wat goed is, nie soos ‘Fishrot’ en sy trawante wat ons wel ook verenig het nie. Maar hierin was geen vreugde nie; jy het die ry verlaat en was kwaad en mismoedig.

Die reën maak in my ’n lus vir avontuur, ontdekking en reis wakker.

Ek wil, nee ek moet, die veld in. Ek moet die klein rooi reënspinnekop gaan soek. Dit voel vir my soos in my kinderjare: As jy hom gevind het, dan het dit regtig gereën. Daai klein bloedrooi, fluweelsagte insekkie is vir my ’n teken van goeie reën.

Ek is mal oor veldlelies en kan nie wag dat hulle kop uitsteek nie. Die wonderlike plate wat ná die eerste druppels met hul blare spog. Nog ’n paar dae later kan hulle al reeds blom. Hulle is soos baie plante in die veld wat weet dat die reën dalk nie lank gaan aanhou nie, en dat hulle die meeste van elke druppel moet maak om hul voortbestaan te verseker.

Ek dink ek moet die naweek ’n koelboks met versnaperinge pak, my vriendin met die bakkie bel en die veld inry op soek na die spinnekop, wilde lelies, vrede en herlaaiing van my siel.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer