Dan groet ons vir eers, ou Theuns
Dan groet ons vir eers, ou Theuns

Dan groet ons vir eers, ou Theuns

[email protected]
Yolanda Nel
Yolanda Nel

Kan jy onthou toe ons ontmoet het, Theuns? Die hemel weet dit was definitief die verkeerde voet vir beide van ons.

Jy was so vol draadwerk. So vol strooi. Ná maande se beplanning en harde werk om jou hier te kry, was niks reg nie. Jy het my kleredrag gekritiseer. Ek was eksentriek, maar vir jou net flippen vreemd. Jy was ook vies, want ek het nie drank vir die funksie gereël nie. Min wetend dat ons bottels rooiwyn later daardie aand saam agter die verhoog sou geniet. Toe ontdooi ons al twee.

Ons het lekker gesels. 'n Onderhoud met 'n joernalis wat haarself nie in daardie stadium in die mediabedryf bevind het nie – ongepubliseerd. Jy wou 'n argitek word. Dank die liewe Vader jy het nie. Want jou stem Theuns; die wêreld is dankbaar vir jou stem.

Ons het lirieke op los stukkies papier neergepen. Jy het my aangepor om musiek te begin skryf. Ek sal bieg, dis vyf jaar later en dit het nog nie gebeur nie. Dalk gebeur dit nou. Maar dis moeilik om lirieke te skryf as jou mentor nie meer daar is om raad te gee nie. As ek lirieke sou skryf, sou dit vir jou wees om te sing.

Ek en jy het dieselfde gedink. Diep woorde. Nie iets met ’n baby baby in nie.

Dis moeilik om te dink die wêreld moet nou sonder jou aangaan. Ja, jou musiek gaan nog vir altyd speel. “Namibsroos” en “Soos bloed” sal vir altyd uit menigte Afrikaanse huishoudings blêr. Dit gaan wel anders wees. Daardie lirieke sal nou gepaard gaan met ’n bietjie hartseer en ’n traan in die oog.

Theuns, toe kom die nuus jou ma is ook nou daar langs jou. Ek kan dit verstaan. Ouers kan nie hul lewe sonder hul kinders indink nie. Hul harte is nie net seer nie, dit breek. In stukkies. Jy was haar kind, ongeag jou ouderdom. Jy bly haar kind. Die mense hier onder verstaan nie, maar julle het mekaar nodig gehad. Die res sal vasklou aan die herinneringe. Die res sal vir ‘n wyle hartseer wees en dan sal hulle ook vertroosting vind.

Ou Theuns, jy los ‘n leemte hier, maar soos Steve vir jou gesing het, “waarheen sal ons hardloop, al ons paaie loop tot hier. Ons spore loop tot hier”.

En jy Theuns, het diep spore getrap. Niemand gaan daardie spore kan volstaan nie. Niemand hoef nie. Nou kan jy rus, want ek weet hoe daardie kanker die laaste bietjie van jou vat, tot daar niks van jou oorbly nie.

Ons wat agterbly sal jou musiek altyd bly speel. Ons sal rooiwyn drink en saam neurie en nogsteeds lekker skoffel op maat van jou diep lirieke. Dalk sal ek tog eendag iets neerpen.

Maar tot dan, “sing dan in die hemele, daar waar jy nou wandel, bekoor jy al die engele, met jou stem soos soet amandels. Sal jy in God se hemele, die engele liefkoos”.

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer