Damme voller

Die Hardapdam het die afgelope week 41,560 Mm³ water ontvang, terwyl die drie damme wat vir Windhoek sorg altesaam 46,402 Mm³ water gekry het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Terwyl 99,671 Mm³ (miljoen kubieke meter) water altesaam 10 nasionale damme die afgelope week binnegevloei het, het die weerkantoor opnuut ’n waarskuwing teen swaar storms vir vandag uitgereik.

Die waarskuwing geld vir die noordoostelike dele van die land, asook die Otjozondjupa-, Khomas- en suidelike streke.

Intussen het die Hardapdam, met ’n kapasiteit van 294,593 Mm³, sedert Maandag 17 Februarie ’n ongelooflike 41,560 Mm³ (miljoen kubieke meter) water ontvang. Dié Suidedam het binne ’n week met 13,8% gelig en is tans 20,6% vol.

Die Von Bachdam se vlak het ook met net minder as 45% gelig en dit is tans 82,4% vol. Dié dam het die afgelope week 20,748 Mm³ water gekry.

Terselfdertyd het die Swakoppoort- en Omatakodam met onderskeidelik 30% en 14,6% gelig. Dit is tans 34,9% en 33% vol. Die Swakoppoort het altesaam 19,143 Mm³ water gekry, terwyl die Omatakodam 6,511 Mm³ water ontvang het.

Die drie bogenoemde damme wat vir Windhoek, asook sentrale dele van die land van water voorsien, het dus in totaal 46,402 Mm³ water ontvang en hul gesamentlike gemiddeld is nou 49%, vergeleke met 18,8% ’n week vantevore.

Wateroorplasings is van die Omatako- na die Von Bachdam af gedoen.

Die Nautedam het 5,721 Mm³ water ontvang en met 6,2% gestyg, terwyl die Oanobdam 1,972 Mm³ water gekry het en van 47% na 52,6% gelig het.

Dit beteken damme in die suidelike dele van die land is tans gemiddeld 34,1% vol.

Die Ooste se Otjiverohoofdam het met 2,7% gelig, terwyl dié dam se slikdam ook 1,480 Mm³ water gekry het en van 2,6% vol ’n week vantevore na 21,6% gelig het.

Die Daan Viljoendam het van 25,2% na 56,9% gelig.

Terselfdertyd het die Omatjennedam van 1,9% na 3,6% gestyg.

RIVIERE

Volgens die vloedverslag wat die afgelope Vrydag deur die Hidrologiese Dienste van Namibië uitgereik is, het die vloei van die Kunenerivier by Ruacana van 1 729,9 m³ per sekonde op Donderdag na 1 473,30 m³ per sekonde teen Vrydag afgeneem.

Dit is egter steeds veel sterker as verlede jaar se 136,1 m³ per sekonde dieselfde tyd verlede jaar.

Die Zambezirivier se vlakke by Katima Mulilo is vlakker as wat normaal is vir hierdie tyd van die jaar, maar dit styg steeds geleidelik en het Vrydag op 1,89 m gestaan.

Die Okavangorivier se vlakke styg ook en dié rivier was die afgelope Vrydag by Rundu 6,96 m diep.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer