Damme voller as verlede jaar
Damme voller as verlede jaar

Damme voller as verlede jaar

Terwyl kenners meer optimisties is oor vanjaar se reënvooruitsigte, vergelyk veral die Ooste se damme veel beter as verlede jaar.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Terwyl die nuwe reënseisoen na verwagting in die komende maande gaan aanbreek, hou nasionale damme nog gemiddeld sowat 48,1% water, terwyl dit verlede jaar dieselfde tyd net 30,8% vol was.

Die drie damme wat die hoofstad en sentrale dele van die land van water voorsien, is nog gemiddeld 69,5% vol teenoor verlede jaar dieselfde tyd, toe dit net 16% water oorgehad het.

Onder dié drie is die Von Bachdam tans die volste op 80,3% (38,179 miljoen kubieke meter of Mm³), gevolg deur die Swakoppoortdam op 78,7% (49,936 Mm³). Wateroorplasings vanaf laas­genoemde dam na die Von Bachdam het ook tussen 9 en 15 Augustus en toe weer sedert 28 Augustus plaasgevind.

Die Omatakodam het tans 44,4% ­(19, 297 Mm³) water oor.

Die Suide se Hardapdam het tans 36,6% (107,711 Mm³) water oor, terwyl die ­Oanobdam proporsioneel dié gebied se volste op 87% (30,024 Mm³) is.

Die Nautedam hou tans 79,2% (66,224 Mm³) water, terwyl die Dreihuk- en ­Bondelsdam onderskeidelik 10,2% (1,585 Mm³) en 9,7% (0,107 Mm³) water oor het.

Dit bring die Suide-damme se gemiddelde stand op 47,9%.

Ooste-damme se gemiddeld staan tans op 47,8% teenoor verlede jaar dieselfde tyd, toe dit maar net sowat 1,4% water oorgehad het. Hier is die Otjivero-hoof­dam die volste op 50,7% (4,972 Mm³), terwyl die Daan Viljoendam en Tilda Viljoendam by Gobabis ­onderskeidelik 33,3% (0,143 Mm³) en 29,6% (0,362 Mm³) water hou.

Die Olushandjadam hou ook tans nog 18,6% (8,479 Mm³) water.

In totaal hou nasionale damme nog 332,851 Mm³ water.



LENTE-VOORUITSIGTE

Terselfdertyd het die Australiese Buro vir Meteorologie in sy nuutste uitkyk­status Dinsdag gesê dit verwag steeds dat La Niña-toestande asook ­negatiewe Indiese Oseaan-dipool (IOD) reeds tydens die lente sal vorm.

Mnr. Johan van den Berg, 'n landbouweerkundige-konsultant by Santam Suid-Afrika, het vroeër gesê die ­dreigende La Niña-toestande tesame met 'n negatiewe IOD bied vir Suider-Afrika 'n “baie positiewe vooruitskouing vir somerreën”.

Dit volg nadat die Buro reeds op 18 Augustus sy Enso-uitkykstatus amptelik van 'n La Niña-wag na 'n La Niña-­waar­skuwing verander het.

Die Australiërs het Dinsdag gesê die kanse dat 'n La Niña nog vanjaar sal vorm, is tans 70% – sowat drie maal die gemiddelde waarskynlikheid.

Dit volg nadat die oppervlak van die Stille Oseaan onlangs nog meer ­afgekoel het, terwyl veranderinge in tropiese weerpatrone en weermodelle 'n voortgesette afkoeling voorspel.

Terselfdertyd is die IOD-indeks reeds vir drie agtereenvolgende weke lank ­negatief. Dit sal amptelik as 'n negatiewe IOD-gebeurtenis beskou word, indien dié tendens vir agt weke lank kan voortduur.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer