Damme steeds 22,9% voller as in 2019
Damme steeds 22,9% voller as in 2019

Damme steeds 22,9% voller as in 2019

Internasionale weerkenners stem saam dat La Niña-toestande ten minste tot die einde van die jaar sal heers.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Nasionale damme hou tans gemiddeld sowat 47,2% water, terwyl dit verlede jaar dieselfde tyd net 24,3% vol was.

Die drie damme wat die hoofstad en sentrale dele van die land van water voorsien, is nog gemiddeld 68,4% vol teenoor verlede jaar dieselfde tyd, toe dit net 15,2% water oorgehad het.

Onder dié drie is die Von Bachdam tans die volste op 81% (38,481 miljoen kubieke meter of Mm³).

Dié dam is ietwat voller as 'n week vantevore toe dit op 80,8% gestaan het. Die rede is dat NamWater besig is met wateroorplasings na dié dam vanaf die Omatakodam.

Die Omatakodam het tans 40,8% (17,726 Mm³) water oor, terwyl die grootste dam onder die drie, die Swakoppoortdam, met 'n kapasiteit van 63,489 Mm³, sowat 77,9% vol is en nog (49,485 Mm³) oor het.

Wateroorplasings het ook in Augustus vanaf laasgenoemde dam na die Von Bachdam plaasgevind.

Die Suide se Hardapdam het tans 35,4% (104,262 Mm³) water oor, terwyl die ­Oanobdam dié gebied se volste op 86,3% (29,774 Mm³) is.

Die Nautedam hou tans 78,2% (65,328 Mm³) water, terwyl die Drei­huk- en ­Bondelsdam onderskeidelik 9,9% (1,527 Mm³) en 7,7% (0,085 Mm³) water oor het.

Dit bring die Suide-damme se gemiddelde stand op 47,4%.

Ooste-damme se gemiddeld staan tans op 47,4% teenoor verlede jaar dieselfde tyd, toe dit maar net sowat 1,3% water oorgehad het. Hier is die Otjivero-hoof­dam die volste op 50,4% (4,940 Mm³), terwyl die Daan ­Viljoendam en Tilda Viljoendam by Gobabis ­onderskeidelik 32,6% (0,140 Mm³) en 29,1% (0,326 Mm³) water hou.

Die Olushandjadam hou ook tans nog 16,8% (7,687 Mm³) water.

In totaal hou nasionale damme nog 326,085 Mm³ water.

LA NIÑA DREIG STEEDS

Intussen het die Australiese Buro vir Meteorologie in sy nuutste uitkyk­status op Dinsdag gesê 'n verskuiwing na La Niña-weerstoestande duur voort, met sleutel Enso-aanwysers wat La Niña-drempels nader.

“Dis 'n aanduiding dat die atmosfeer reageer op veranderinge in die see. As die huidige atmosferiese patrone en die verkoeling van die tropiese Stille Oseaan tot die einde van September voortduur, is dit hoogs waarskynlik dat La Niña-toestande vir minstens die res van die jaar sal voortduur.”

Die buro sê alle internasionale klimaatsmodelle dui nou aan dat La Niña-drempels vanaf September bereik sal word en minstens tot jaareinde sal voortduur, terwyl die meeste modelle voorspel dat dit tot vroeg in 2021 sal voortduur.

Die Australiërs sê die Indiese Oseaan-dipool (IOD) het egter intussen terug na neutrale vlakke gestyg, maar dat vyf uit ses klimaatsmodelle voorspel die IOD sal weer daal en kan teen Oktober negatief wees.

Dit sal amptelik as 'n negatiewe IOD-gebeurtenis beskou word, indien dié tendens vir ten minste agt weke lank kan voortduur.

Dit volg nadat die buro reeds op 18 Augustus sy Enso-uitkykstatus amptelik van 'n La Niña-wag na 'n La Niña-­waar­skuwing verander het.

Dit stem ooreen met 'n verslag wat op 10 September deur die Amerikaanse Weervoorspellingsentrum en die Internasionale Navorsingsinstituut vir Klimaat en Samelewing uitgereik is.

Hiervolgens bestaan 'n 75% kans dat La Niña-toestande tydens die Noordelike Halfrond se winter sal voortduur. Die Amerikaners hou egter vir eers hul uitkykstatus op 'n La Niña-wag.

Mnr. Johan van den Berg, 'n landbouweerkundige-konsultant by Santam Suid-Afrika, het vroeër gesê die ­dreigende La Niña-toestande tesame met 'n negatiewe IOD, bied vir Suider-Afrika 'n “baie positiewe vooruitskouing vir somerreën”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer