Dagboek vir die landbouer
Dagboek vir die landbouer

Dagboek vir die landbouer

Ronelle Rademeyer
Bestuur van jagbare wild

'n Voorlegging word vanaand in Windhoek aangebied deur Ernst Ludwig Cramer, 'n ­professionele jagter en kommersiële boer, oor die eienaarskap en bestuur van wild op kommersiële plase, die nodige wetlike en regulerende ­raamwerk, kommersiële bewaringsgebiede, die lewensvatbaarheid van wildboerdery, geleentheidskoste en ­sinergieë, asook die basiese sake­konsepte wat op trofeejag toegepas word. Dit word gereël deur ­Agriculture Alive en aangebied om 18:00 by Jeppestraat 2, Noordelike Nywerheidsgebied (agter Wecke & Voigts). Die koste beloop N$150 per persoon.



Osire, Waterberg se

boere vergader

Die Osire-Waterberg BV vergader vandag om 15:00 in die ­BV-saal. Die sprekers is Derick Strauss, Marius de Klerk, Frans Krone en Mac McLoud. Kontak vir Natasha McLoud by 067 303390, [email protected] vir meer inligting.



Summerdowners óók byeen

Summerdown BV hou ook vandag om 15:00 'n vergadering in hulle BV-saal. Berni Hugo van Compack Packaging, 'n natuurbewaarder en Richard Peens van Voermeester op Gobabis is die gassprekers. Kontak vir Rienie du Plessis by 062 561621 of [email protected] vir meer inligting.



Houtskoolbedryf hou ­reuse-ekspo by Otjiwa

Die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) hou sy jaarvergadering en Biomassategnologie Ekspo Vrydag by die Otjiwa Safari Lodge buite Otjiwarongo. Dit begin om 08:00 met die jaarvergadering en die ekspo duur van 10:00 - 17:00.

Dit is oop vir die publiek en kaartjies is aanlyn beskikbaar deur ­Webtickets.com.na (N$100 per persoon) of by die hek (N$150 per persoon).

Meer as 50 tegnologie-uitstallers word verwag en meer as 30 tegnologiese demonstrasies word aangebied. Vir verdere besonderhede, kontak vir Roelien Coffee by 081 124 0081 of ­[email protected].



Grünau se winterskool

om die draai

Die Grünau BV bied sy ­jaarlikse Winterskool op 15 Augustus in die BV-saal aan. Die program begin om 07:00 met registrasie en ontbyt. Vanjaar is die sprekers Ryno van der Merwe en Roelie Venter van die NLU, Pieter van Schalkwyk, Burre Burger en Pieter de Villiers.

Die dag word met 'n steakbraai afgesluit. Registrasie beloop N$250 per persoon, waarby die ontbyt, middag- en aandete ingesluit is. Vir verdere besonderhede, kontak vir Sonia by 081 209 7959.



Skietkompetisie by ­Onder-Nossob aangebied

Die Onder-Nossob BV bied die 2019 skietkompetisie op 17 Augutus by die BV-saal aan. Inskrywings word gedoen op 16 Augustus die aand en vroeg die oggend van 17 Augustus. Dit koste beloop N$500 per persoon vir spanne van 4 lede en N$250 per persoon vir enkelinskrywings.

Daar is ook geleentheid vir kinders onder 10 jaar om met 'n .22-geweer te skiet.

Kampering is beskikbaar teen N$100 per voertuig. Die prysuitdeling is om 18:00 op 17 Augustus en daarna word 'n ete en dans aangebied wat N$150 per persoon kos. Kinders onder 13 jaar betaal halfprys. Vir inskrywings en navrae, kontak vir Jaco Olivier by 081 887 8405.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer