Konings smul aan dadels
Namibië het met sy Barhi-dadels 'n voet in die deur van gesogte uitvoermarkte gekry.
Ronelle Rademeyer
Van die koningshuise in die Verenigde Arabiese Emirate smul tans aan sappige Barhi-dadels uit Namibië.
So ook ander verbruikers in Abu Dhabi, Dubai, Koeweit, Kombodja, Indonesië, Maledive, Singapoer, die Verenigde Koninkryk en Switserland.
Dit volg nadat die korporatiewe dadelplaas Desert Fruit Namibia tussen Januarie en Maart nagenoeg 100 ton van dié fynproewersvrugte opgelewer het.
Die plaas is suid van Karasburg op die oewer van die Oranjerivier geleë en het 12 jaar gelede begin om dadels te plant.
Mnr. Charles Edmonds, tegniese bestuurder op die plaas, sê Barhi is 'n unieke dadel wat vars geëet word en nie gedroog word soos baie van die ander dadelsoorte nie. Dit word veral in die Midde-Ooste as 'n delikatesse beskou.
Benewens Barhi-dadels verbou Desert Fruit Namibia ook Zamli- en Khallas-dadels. Dit word ook vars geëet. Edmonds sê die uitdaging daarvan is om dit binne 72 uur aan verbruikers in die uitvoermarkte beskikbaar te stel.
Hy sê dadel-fynproewers laat dikwels die geel Barhi-dadels lê om halfpad droog te word voordat hulle dit eet. Dit het dan 'n soet, karamelagtige smaak.
Desert Fruit Namibia is een van net twee plase in Suider-Afrika wat buite die seisoen vars dadels aan markte in die Noordelike Halfrond lewer.
“Dit maak die maatskappy en Namibië uniek en plaas ons op die wêreldkaart, al is dit in 'n kleiner mark,” sê hy.
Mnr. Seth Holmes, besturende direkteur van Desert Fruit Namibia, het gister by navraag gesê sowat 100 ton Barhi-dadels is in die eerste drie maande van die jaar geoes.
“Van sommige boorde kon ons tot soveel as 70 persent van die opbrengs uitvoer.”
Hy sê gehalte is vir die maatskappy kritiek belangrik en net die beste kwaliteit word uitgevoer.
Hoewel die oes nie baie groot was nie, was die gehalte uitstekend en kon Desert Fruit Namibia buitelandse valuta daarmee in die uitvoermarkte verdien, sê Holmes.
Hy het die Namibiese regeringsagentskappe bedank wat gehelp het om die dadels so vinnig en so vars as moontlik in die uitvoermarkte te kry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie