DAD Man beloof op en wakker spel
DAD Man beloof op en wakker spel

DAD Man beloof op en wakker spel

Sokker
NAMPA
Komende naweek kry uitgehongerde sokkerspelers in Windhoek kans om by die Van Rhyn-skoolveld in Windhoek-Wes en die John Ya Otto Nankudhu-stadion in Katutura stoom af te blaas.

Saterdag en Sondag kan belangstellende klubs die DAD Man-reeks voortsit om met 'n eerste posisie 'n lekker vet tjekkie van N$5 000, 20 goue medaljes asook 'n wisseltrofee op te raap.

Die kompetisie se naaswenner kan N$3 000 en 20 silwermedaljes huis toe neem. Die verloorders van die semi­finale sal met N$1 000 elk in die sak nie met leë hande huiswaarts keer nie.

Die DAD Man-kompetisie (geborg deur William Cloete) het in Januarie vanjaar in Karasburg afgeskop waar die span van die Ernst Jagger Gekombineerde Skool die kampioen was.



VORIGE RONDTES

Gedurende Februariemaand was dit Black Arrows se beurt in Keetmanshoop om met die louere weg te stap, terwyl die aardig benaamde Covid-19-sokkerklub van Windhoek in Junie die kompetisie by Groot Aub gewen het.

Die mees onlangse kampioen is die Adizonkpak-span wat laasmaand by Hoachanas as die DAD Man-wenspan bekroon is.

Die organiseerders sê: “Enige span is welkom om in te skryf. Registrasie beloop N$450 per span. Ons sal die loting van die spanne Donderdag doen om te sien wie teen mekaar gaan speel.”– Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-06-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer