Daar's weer lewe in die huis waar Uis se liggies brand
Daar's weer lewe in die huis waar Uis se liggies brand

Daar's weer lewe in die huis waar Uis se liggies brand

Errol Hurter
Waar Namibië se grondpaaie hulle teen 'n lappie teer vasloop, lê daar dorpies. Dis dorpies soos Uis ná die afgelope naweek se belewenis.
Plek-plek was die werklike rede vir die indringer vergete, want die byklanke was hoër as die lied in die hart. En mooier. Want bokant die Brandberg in die verte hang 'n sekelmaan. Die skepel beur boontoe soos die afgelope jare, want daar was nie meer vog om oor die dorsland te strooi nie. Nie dat die geweste met sy bietjiebos nie droogtes ken nie. Dit is 'n leefwyse wat uit swaarkry ingekerf is. Daar is aangepas soos wat die olifante van die Ugab en die woestynleeus van die Kunene ook geleer het dat water 'n weelde is.
Windhoek beur teen waterbeperkings. Op Uis is daar net drie ure elke dag lopende water in die krane - vroegoggend, middagtyd en dan weer 'n uurtjie vir was en skoonmaak wanneer dit aand word.
Eers die omgewing van hierdie voorpos van Damaraland. 'n Bekentenis van wat geen geheim is nie, is dat ek 'n roker is. Hier waar die nering my op 'n Vrydagaand na die ruskamp Daureb Isib geroep het, is alles ru, gerieflik en skoon, maar is die aantasting van die natuur uiters skraps. Dit lyk of elke klip gepak is vir die verwelkoming van besoekers. Die deurmekaar orde is so aangrypend dat die landskap tot my spreek. Daarom word nie eens die as van 'n stompie afgetik nie. Daar word gestap om by 'n vullisdrom of 'n asbak te kom.
Vriend Mike vertel oor 'n gabbatjie koffie dat Uis 'n spookdorpie in wording was toe hy met die draai van die eeu daar kom anker gooi het, want hy was 'n man van die Walvisbaaise hawe en die see. Uis was op sy sterfbed as gevolg van die tinmyn as lewensaar van die geweste wat die handdoek ingegooi het. Die mynmanne en die geldstroom van Uis was net weg, ver weg. 'n Huiskoper kon kies waar hy of sy wou gaan bly.
Toe was Uis net 'n voorpos vir reisigers na die wondere van Damaraland en Kaokoland. Daar is net stilgehou vir die afskuwelike skoonheid van hul verkenningstoer wat voorgelê het. Petrol, 'n broodjie vir 'n stilhouslag in die woesteny met 'n koffiefles wat die skinker sou wees en 'n knertsie vir die bestuurder wat van 'n tamheid in sy arms en bene gekla het oor die baie ry. Vandag is daar winkels, restaurante, herberge en kampeergebiede so wyd soos die Heer se genade. Danksy toerisme het die lewensdraad gehou.
Op die gebied van toerisme gaan daar nou 'n maatjie kom. 'n Teerpad gaan gebou word om Uis aan die Walvisbaaise hawe te koppel en dan gaan die teerbaan verder na plekke soos Khorixas en Kamanjab rek. Dit gaan een van die roetes van die Walvisbaaise Korridorgroep word waarlangs swaar voertuie ook aan Namibië se landgebonde buurlande lewe gaan bring.
Vir die nag was die blyplek hoog op 'n heuwel waarvandaan tot ver oorkant die verste berg gekyk kan word. Getem deur 'n ondernemer wat die landskap liefhet. Daarvan getuig die sterk aanwending van klip in die bouproses en die beskerming wat hier aan die vele kaktusse en ander bittereinders in die stryd teen die dorsland oorleef het.
In die nag is opgestaan. Dit was nie om op die roep van 'n kiewiet te antwoord nie, maar om die nagwonder in die handpalms te dra. Daar's lewe doer onder waar straat- en padligte die dorpsgrense wys. Dit is grense wat nou wyer reik met nuwe erwe wat uitgemeet word.
Knap na die eerste hoenderkraai speel 'n volgende wonder voor my af waar 'n klipmesselbank my sitplek is. Dis die son se eerste strale wat kaleidoskoop teen die Brandberg se hange speel.
Ek gaan weer Uis toe wanneer die volmaan skyn.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer