Daar’s ’n Poffie oppie strand

[email protected]
Tielman van Lill
Tielman van Lill

In die groot boek word baie mooi verduidelik van jou kaal hakskeen wat deur ’n sluwe pootlose gevaarte geknibbel gaan word.

Dit moes in die dae voor koerante, draadlose, tievies, vonkposse, esemesse en whatskappe gewees het, toe Eva se eskapades in die tuin sawens deur die ouers aan hul kinders met smaak oorvertel was.

Ek glo dié storie het deur die jare meer as een slangstertjie bygekry om al wat onnutsige en balhorige telgie op die regte spoor met onverdunde ingeboesemde vrees te kry.

Ma sou daar by die rokerige olyfolielamp sê: “Tannie Eva was klaar stout toe sy kaalbas sonder Oom Adam in die tuin met al sy versoekings rondgedwaal het.

“Sy het geweet daar is verleidelike vrugte en slange wat met ’n alleenvrou se kop kan smokkel. ’n Adder kan enige plek opduik, selfs in jou kooi tussen die beddegoed Sussie. Jy moet versigtig vir al wat ’n slang wees. Kortes, langes, dukkes, dunnes, vales, wittes, swartes en veral die wat jou sonder om te skroom van die verbode vrugte aan dié boom verduidelik.

“Ma sal nou nie weet of Oom Adam dalk die skuldige een was wat voor Tannie Eva in sy geboortepakkie oor die tuin se precast-muur vir sy buurvrou met die rooiwangetjies en rooilippies geloer het nie. Maar Sussie, luister nou mooi vir mamma, as jou man nie by die huis is nie, dan loop jy nie rond nie. Gehoor!?”

“As jy rondloop waar jy nie moet wees nie, gaan jy nes Tannie Eva van die verbode vrugte eet waarvan die goddelose ou slang haar vertel het, en dan is jy sommer diep-diep in die sop!”

“En dan, Mamma?” sou Sussie met groot en vreesbevange ogies in die donker vra waar hulle in ’n rokerige kamer sit waar Pa neffens hulle op sy lazyboy aan sy rosé-papiruswyn in ’n erdebeker sit en teug. Tussendeur suig hy aan sy gegraveerde donkiebeenpyp wat met die geurigste en vars papegaaislaai gestop is.

Pa sou dan op die regte tyd ná ’n belangrike pouse van stilte met sy diep basstem intjip en die uiteinde van die onwelkome adder en sy bose attensies kleurvol aan Sussie skilder.

“Sussie, kyk die ding werk so. Ons verdra nie adders nie. Hulle koppe moet vermorsel word. Jy soek die grootste klip en gooi daai ongedierte se bose kop plat dat dié g’n mens aan die hakskeen kan byt nie!”

Ek het uit Eva se katarsus in Eden asook die geskiedenis geleer dat ’n slang, en veral adders oral kan wees. Veral in jou midde. Soos by die werk, tuis, en meer onlangs op die strand.

’n Poffie is Maandag by Jakkalsputz suid van Hentiesbaai deur kustenaars ontdek waar dié outjie ewe kordaat net kort duskant die skuimende branders op die koelte van die strand sy moeë en warm pofadderlyf gelawe het.

Kyk die oosweer werk met die kustenaars in die Republieke van Hentiesbaai, Swakopmund en Walvisbaai se galle, maar dit wil voorkom of die hitte ook een te veel vir Poffie geword het.

Genadiglik was daar geen tuin, die boom van goed-en-kwaad of verbode vrugte insig waarmee hy dié kustenaars kon omkoop nie. Of Poffie terstond een van die fô-baai-fô’s se taaiers as ’n smaaklike hakskeen aangesien het, kon ek nog nie uitvinne nie.

Of Poffie sy besoek aan die Atlantiese weskus van Namibië oorleef het, kon ek ook nie vasstel nie. Ek glo ook dat Poffie nie ’n halsband met sy naam en eienaar se nommer om sy skubberige nek gehad het nie.

Indien daar ’n blou of pienk halsbandjie om Poffie(lina) se grillerige nekkie sou wees, kon die inligting soos gevolg gelees het. My naam is Poffie(lina) en my Ounooi is Eva van der Tijn. Bel 080 000 1111 as jy my kry.

Kommentaar

Republikein 2025-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer