Daar waar die wind waai, wil ons wees
Tanja Bause – Almal wat al Lüderitz besoek het, weet die wind kan verskriklik in dié kusdorp waai.
Dit mag baie mense waarskynlik daarvan afsit om die dorp te besoek. Maar in Oktober en November sak tientalle besoekers van oor die wêreld heen op Lüderitz neer, juis oor die wind.
Dié besoekers kom uit 12 verskillende lande om aan die Lüderitz Speed Challenge deel te neem. Sowat 40 seilplank- en sweefskiryers probeer dan om weer eens hul eie rekords asook nasionale en wêreldrekords op die mensgemaakte kanaal te verbeter.
Sedert die begin in 2007 is daar 12 wêreld- en 75 nasionale seilplank- en sweefskirekords opgestel.
Vanjaar se deelnemers sluit die huidige wêreldkampioen-spoedseilplankryer, Twan Verseput van Nederland, en Björn Dunkerbeck van Spanje in. Laasgenoemde is die oudste Red Bull-atleet en spog met 43 seilplanktitels agter sy naam.
Sebastien Cattelan van Frankryk, die stigter van die Speed Challenge en die eerste sweefskiryer wat vinniger as 50 en 55 knope (101 km/h) gery het, neem ook deel. Nog ’n deelnemer is Mark Grinnell van Suid-Afrika – die Afrika-kampioen en die tans derde vinnigste seilplankryer.
Japan neem ook dié jaar vir die eerste keer deel. Ander lande is: Namibië, Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Swede, Noorweë, Switserland, Italië en Nederland.
“Dit is die enigste plek ter wêreld waar jy bestaande wêreldrekords kan opstel,” het Raffaello Gardelli, mede-organiseerder en deelnemer, gesê. “Dit is die enigste kanaal waarvan die hoek reg is om rekords op te stel. Lüderitz het inderdaad die vinnigste water ter wêreld.”
Die byeenkoms is die afgelope jare deur Sophie Routaboul en Sebastien Cattelan gereël. Vanjaar bied Raffaello Gardelli en Mark Grinnell van borge Surf ’N’ Curve wat in Kaapstad gebaseer is, dit aan. Beide is toegewyde spoedseilplankryers.
In 2015 het Antoine Albeau van Frankryk sy wêreldrekord vyf keer hier verbeter. Uiteindelik het hy 53.27 knope (98.55 km/h) gehaal. Karin Jaggi van Switserland het 46.31 knope (85.77 km/h) gehaal en daarmee die vinnigste vrou op water geword.
Verseput het vlugbal vir Nederland gespeel, maar ná ’n kniebesering kon hy nie verder die sport beoefen nie. Hy het sowat vyf jaar gelede begin seilplank ry.
“Ek was verbaas toe ek die wêreldkampioen geword het omdat ek nog nie lank soos ander manne seilplank gery het nie. Maar dit is ’n wonderlike gevoel en ek kan nie wag om vir die eerste keer die Lüderitz-kanaal te betree nie,” het hy gesê.
“Die sterk wind sal my help om my grense te toets. Ons kompeteer nie op die ope water nie; dit is ’n mensgemaakte kanaal wat sowat sewe meter breed is en jy jaag met ’n verskriklike spoed daar af. Dink so daaraan: Jy ry in ’n vinnige sportmotor teen 250 km/h in ’n klein straat af en aan beide kante van die pad is hoë, groot bome. Dis hoe dit voel,” het Verseput gesê.
Manfred Fuchs is vanjaar in beheer van die tydstelsel.
“Daar is twee stelsels. Die een neem video en die tyd op sodat daar videobewyse is van wie die ryer was wat die spesifieke tyd opgestel het. Die rekenaar werk dan die presiese tyd uit. Die tweede stelsel werk met ’n ligstraal dus is daar geen bewyse van wie die persone was nie. Maar die voordele hiervan is dat die tyd nie uitgewerk moet word nie en onmiddellik op ’n skerm gesien kan word wat baie belangrik is vir die ryers en mede-deelnemers,” het Fuchs gesê.
Michael Ellison, die amptelike waarnemer van die World Speed Sailing Record Council (WSSAC) van Engeland, sal deurentyd aanwesig wees om die rekords te bevestig wat opgestel word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie