Daar is groter struikelblokke as NEEEF
Daar is groter struikelblokke as NEEEF

Daar is groter struikelblokke as NEEEF

Dani Booysen
JOHN FREDERICKS SKRYF:

Onkunde en onkundigheid, naas korrupsie en staatskaping, is groter struikelblokke vir ekonomiese groei as NEEEF.

Die aanstellings, bevordering en plasing van onbevoegde persone in sleutelposisies kan meer skade aan die ekonomie berokken as 'n beleidsrigting wat historiese ongelykhede wil aanspreek.

In 'n onlangse opname/studie wat deur die sogenaamde “onafhanklike” Ekonomiese Beleidsnavorsingsvereninging (Epra) gedoen was, het hulle met 'n “verdoemende uitslag” te vore gekom. Volgens 'n berig in die enigste Afrikaanse dagblad het die opname/studie “ten doel gehad om plaaslike besighede se kommer oor die regering se onlangse populistiese beleide te ondersoek”.

Die Namibiese regering was vir die afgelope 28 jaar besighede goed gesind. Die goedgesindheid duur voort, ten koste van die werkers en die ekonomiese omstandighede van die meerderheid, en dit sal so bly vir die volgende dekade en meer.

Die regering het, nadat strydrosse soos die ontslape Moses Garoeb die ewigheid beërwe het, hul sosialistiese beleidsrigting begrawe, en daarmee “populistiese beleide”. NEEEF, daarteenoor, is nie 'n populistiese beleidsrigting nie. Dit is eerder 'n gewetenspoging van die regering, wat tot 'n mate tot besef gekom het dat na 28 jaar van onafhanklikheid en sogenaamde ekonomiese en politieke stabiliteit, die oorgrote meerderheid van Namibiërs nogsteeds in Apartheidsarmoede leef. Die regering ervaar gewetenswroeginge oor hul onbevoegheid om ekonomiese gelykheid in die land teweeg te bring.

Epra het in hul studie/opname, soos berig was, sowat 600 Namibiese ondernemings met meer as 500 werknemers genader. Die vraag is wat is die gevoel van die werknemers? Was hul genader vir hul opinie oor NEEEF?

'n Geloofwaardige opname moet mos ten alle tye 'n audi partem benadering teenoor 'n saak hê, anders is die bevindinge eensydig en van geen belang, behalwe vir die belang van diegene wat munt daaruit kan slaan. Dit is juis hierdie eensydige benadering wat tot gevolg gehad het dat een van die bevindinge was dat ”besighede waarvan die eienaars hoofsaaklik wit is, het begin wonder of hulle 'n toekoms in die land het”. Wat is die teenoorgestelde van die genoemde bevinding, en kan dit 'n werklikheid word midde die huidige ekonomiese klimaat en beleidsrigtings?

'n Opname wat die sienings van die werkers en hul opvatting van NEEEF ingesluit het, sou 'n heel ander prentjie geskets het; tot ander slotsomme gekom het. Geen onderneming kan sonder die insette van werkers bestaan en geen werker kan sonder besighede/werkgewers 'n bestaan voer nie.

Die ideologiese beginsel van NEEEF is om ekonomiese ongelykhede van die verlede en die hede aan te spreek. Die feit dat 'n paar voorheen benaaldeeldes die soustrein gehaal het, beteken nie dat die speelterrein gelyk gemaak was nie.

Nog een van die doelwitte van die opname was “om die werklikheid van Namibië aan te spreek”. Sou die opname die werkers geken het, sou die “werklikheid” 'n werklike werklikheid vir die opname geword het.

Dit is gedeeltelik waar dat die regering weens onkunde en onbevoegheid nie weet wat werklik in die land aangaan nie, maar dan is dit die einste ekonomiese ondernemings wat aan die regering voorskryf om minimaal by die ekonomie betrokke te wees. Dit blyk uit die opname en meegaande statistiek dat die opname die regering blameer vir die insinking in die ekonomie.

My vraag is of dit is oor die nie-noemenswaardige betrokkenheid van die regering by die ekonomie, of gaan dit oor die lou uitsprake van die regering oor hul afgewaterde NEEEF-beleid?

Onkunde, onkundigheid, onbevoegheid en ongelykheid, saam met hul verwante neefs, korrupsie, selfsugtigheid en oneerlikheid, is die werklike stremminge vir ekonomiese groei.

Kommentaar

Republikein 2025-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer