CYMOT nou op Keetmanshoop

Gerine Hoff
Is jy op soek na motoronderdele of -toebehore, maar kan nie daarvoor Windhoek toe ry nie? Of is jy lus om vir ’n naweek te gaan kamp, maar jy het nie ’n tent nie?
Of wil jy jou kombuis ’n nuwe voorkoms gee, maar het nie die regte gereedskap daarvoor nie? Wel, vir inwoners op en rondom Keetmanshoop is dié probleme nou iets van die verlede.
’n Nuwe Cymot-tak het aan die begin van Augustus op die dorp geopen en dié 1 000 m² winkel het inwoners behoorlik opgewonde.
Sedert die ontstaan van Cymot het dit oor die jare gegroei tot ’n groot Namibiese onderneming met verskeie takke in die land. Die nuwe tak is die 14de wat die maatskappy landwyd oopgemaak het en die derde in die suide van die land.
Die nuwe tak is toegerus met dieselfde voorraad as sy ander takke en dit sluit onder meer motoronderdele en -toebehore, toerusting vir die buitelewe, hengelgerei, fietse, werkswinkeltoerusting en -gereedskap, tente en ander kamptoerusting in.
Cymot spesialiseer veral in Midas, Greensport, Tooltech, Namsafe, Colour Perfect en Mining & In­dustrial handelsmerk-produkte.
Volgens die bestuurder van die nuwe tak, mnr. Jacques Meyer, het die beplanning daarvan reeds in Januarie vanjaar begin.
“Om ’n nuwe tak op Keetmanshoop oop te maak, was nog altyd deel van ons plan. ’n Opname is deur ’n projekbestuurspan gedoen om die lewensvatbaarheid van ’n nuwe tak op die dorp te toets. Dit was ’n strategiese besluit om daarmee voort te gaan, weens die ontwikkeling wat op die dorp besig is, sowel as die Neckartal-damprojek,” het hy gesê.
Volgens Meyer het inwoners op die dorp voorheen Suid-Afrika toe gery om soortgelyke produkte te gaan koop omdat dit nie plaaslik beskikbaar was nie.
“Ons is ’n trots Namibiese maat­skappy wat plaaslike produkte verkoop. Dit is vir ons daarom ook baie belangrik om inkomstes in ons eie land te behou, en so ’n sterker ekonomie vir Namibië te vestig,” sê hy.
Meyer sê die nuwe tak kan nou aan die gemeenskap se behoeftes voldoen en dit bedien. “Indien ’n kliënt iets nodig het wat nie in die winkel in voorraad is nie, kan dit ook maklik met bestelling verkry word.”
Mnr. Axel Theissen, die besturende direkteur van Cymot, sê die tak op Keetmanshoop is geopen in ’n baie kort tydperk ná die besluit geneem was. Volgens hom word dit toegeskryf aan Cymot-personeel se vermoë om goed as ’n span saam te werk.
“Dit is vir my ’n eer om die nuwe tak aan die Keetmanshoop-span te oorhandig. Ek het volle vertroue dat die nuwe tak ’n sukses sal wees,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2026-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer