Curriebeker se bioborrel kan bars oor emosies

Rugby
Hendrik Cronjé – Uit ’n koste- en menslikheidsoogpunt dink MyPlayers, die liggaam wat Suid-Afrika se beroepsrugbyspelers verteenwoordig, dit sal beter wees vir almal in die bedryf as die tydperk van die Curriebekerreeks se bioborrel so kort as moontlik is.
Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, het ook aan Rapport bevestig dat hulle twee onafhanklike deskundiges, dr. Konrad von Hagen en prof. Pieter Kruger, betrek het om die komende week die spelers se algemene gevoel oor ’n bioborrel te toets.
“Konrad ondersoek namens die spelersgroep eerstens die bioborrel en voorgestelde kompetisie vanuit ’n mediese oogpunt. Sal spelers medies gereed wees om te speel, en tweedens, voldoen die bioborrel se protokolle aan alle redelike verwagtinge sover dit spelersveiligheid betref?” het Henning gesê.
Von Hagen was een van die Springbokke se dokters tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan. Dié vriendelike Baaise dokter moes voorheen ook spelers van die Protea-krieketspan, die Warriors-krieketspan, die Madibaz en Kings met hul skete help.
“Pieter ondersoek derdens namens ons die impak van ’n bioborrel-scenario op spelers se geesteswelstand.
Konrad ondersoek namens die spelersgroep eerstens die bioborrel en voorgestelde kompetisie vanuit ’n mediese oogpunt.
“Hoe lank kan daar byvoorbeeld van ’n individu verwag word om in so ’n bioborrel te funksioneer? Watter ondersteuningsdienste moet beskikbaar wees? En ook, watter impak kan dit op families hê en wat gedoen behoort te word om hulle by te staan.”
Kruger was van Februarie 2015 tot Februarie 2016 die Bokke se prestasiesielkundige. Hy het dieselfde rol van Augustus 2016 tot Augustus 2018 by die Blitsbokke vervul.
Hy was daarna by spanne soos Harlequins in Engeland en die Haaie betrokke en is tans by die Ierse klubspan Munster.
“?’n Vierde oorweging is die kommersiële gevolge indien ons nie vanjaar weer rugby speel nie. Sonder daardie inkomste word die plaaslike bedryf onder ernstige finansiële druk geplaas, wat ’n negatiewe langtermynimpak op rugby kan hê,” het Henning gesê.
“As ons nie ook hieraan ’n ernstige oorweging skenk en dit verstaan nie, kan dit vir die spelers ’n uiters gevoelige slag inhou.”
Uiteindelik moet die spelers volgens Henning ál hierdie faktore en die deskundige terugvoering teen mekaar opweeg voordat hulle ’n beredeneerde standpunt oor ’n bioborrel kan inneem. So ’n standpunt sal binne die komende week gefinaliseer word.
Dis vir MyPlayers nog te vroeg om te sê of die spelers enige vereistes rakende ’n bioborrel het.
“Afhangend van die terugvoering van die onafhanklike konsultante en dit wat ons vir die spelers kan voorhou, sal ons ’n indruk kry of daar enige bykomen-de vereistes is, buiten vir dié wat reeds genoem is.”
Geen sekerheid bestaan nog waar SA Rugby beplan om ’n bioborrel, of selfs twee, te skep nie.
Kaapstad, Johannesburg, Durban en Mbombela is wel aan Rapport genoem as moontlike gasheerstede vir ’n Curriebeker-bioborrel.
Die aanvanklike beplanning was dat die Curriebeker op 29 Augustus begin en die Cheetahs, Pumas, Griekwas, Kings, Leeus, Bulle, Haaie en Stormers sake oor ’n dubbelronde uitspook.
SA Rugby wag egter nog op die regering se nodige goedkeuring om met kontakoefeninge in spanverband te begin. Dit kan beteken dat daar geen Curriebeker-rugby voor 12 September gespeel word nie.
Selfs al het pres. Cyril Ramaphosa Saterdagaand aangekondig dat die land na vlak 2 van die inperking skuif, is daar nog geen aanduiding dat dít beteken ’n bioborrel sal nie vir die Curriebeker-reeks nodig wees nie.
Die regering kan wel moontlik volgende week aankondig dat ’n bioborrel nié nodig is vir kontakoefeninge om te hervat nie, en meer duidelikheid sal dan verkry word oor of dit nodig sal wees om die Curriebeker-reeks in ’n bioborrel te laat plaasvind.
As die aankondiging wel beteken dat ’n bioborrel nie meer nodig is nie, sal die R80 miljoen wat daarvoor nodig sal wees, gespaar word. – Netwerk24, Rapport

FOTO
Prof. Pieter Kruger. Foto Gallo

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer