Covid-reu00ebls kan gesinsmanne kniehalter
Covid-reu00ebls kan gesinsmanne kniehalter

Covid-reëls kan gesinsmanne kniehalter

Krieket
Die Australiese kolwer David Warner sê al die bio-veiligheidsmaatreëls wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan, kan meebring dat krieketspelers nou langer weg van hul gesinne gaan wees en sal hom oor al sy internasionale verpligtinge laat herbesin.
Dié pa van drie het sy gesin dikwels saam met hom op toere gehad. Hy sê die vooruitsig om nou vir langer tye van sy vrou en dogters weg te wees, kan beteken dat moeilike besluite gemaak sal moet word.
Die 33-jarige Warner speel in al drie formate vir die Aussies.
“Jy moet altyd eers na jou gesin omsien en met krieket en hierdie ongekende tye, sal jy besluite moet opweeg,” sê Warner.
“Daar is tye wanneer jy weg is dat jy jou gesin baie mis en op die oomblik met al die maatreëls gaan ons nie die luukse hê dat ons gesinne nou saam met ons kan wegkom nie. Dit kan vir die voorsienbare toekoms so wees.”
Warner gaan hoeka vanjaar vir lank weg van die huis af wees.
Australië beplan om in September ’n eendagreeks in Engeland te speel, waarna die Indiese Premierliga tussen September en November in die Verenigde Arabiese Emirate gehou word.
Warner sê op lang termyn kom sy gesin eerste.
“Ek sal sien waar ek staan en hoe my dogters se skoolsituasie lyk. Dit gaan nie net oor wanneer en hoeveel krieket gespeel word nie. Dis vir my ’n groot gesinsbesluit.”
Warner sê met die groot toename in Covid-19-gevalle in Melbourne, wat inwoners die afgelope drie weke terug in inperking gedwing het, is daar ’n kans dat die Kerstoets teen Indië nie soos gebruiklik op die Melbourne Cricket Ground (MCG) sal kan plaasvind nie.
“Ja, ons gaan daarna moet kyk. Dit gaan ’n uitdaging vir almal wees.” – Reuters, Netwerk24

FOTO
David Warner en twee van sy dogters, Indi Rae (links) en Ivy Mae, ná verlede jaar se Kerstoets teen Nieu-Seeland op die MCG in Melbourne. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2026-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer