'Covid is nuwe melaatsheid'
'Covid is nuwe melaatsheid'

'Covid is nuwe melaatsheid'

'n Vrou van Windhoek sê sy wil die stigma oor Covid-19 breek deur openhartig oor haar ervaring te praat.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



'n Vrou van Windhoek wat verlede Dinsdag gehoor het haar Covid-19-toets is positief, sê sy was drie weke lank siek en het haar huisdokter vier keer besoek waar sy meegedeel is sy het “'n hengse griep en haar stresvlakke is hoog”.

Toe sy verlede Saterdag voel haar longe is aangetas, het sy na 'n private mediese sentrum gegaan waar sy getoets is.

Me. Saskia Harteveld (50), hoof van AGS Records Management, 'n filiaal van Stuttaford Van Lines, sê sy het haar so ver moontlik afgesonder vandat sy vir die eerste keer siek gevoel het. Sy is ook deeltyds in die jag- en safari­bedryf betrokke.

“Ek het al die Covid-simptome gehad, maar matig. Koors van 38,5 ºC, kouekoors, lyfseer, dowwe hoofpyn en toe het dit begin voel of my longe ook aangetas is. As ek probeer het om my longe vol lug te trek, het dit gevoel of ek gaan verstik. Ek kon nie asem kry nie.”

Harteveld, 'n weduwee, het verlede week op Facebook bekend gemaak sy het Covid-19 en gesê sy is nie skaam om haar status met ander te deel nie.

Sy sê toe sy begin siek voel, het mense hulle onttrek. “Ek wil die stigma breek, want ek weet hoe dit voel as mense jou vermy. My eie familie het nie geglo ek is so swak en so siek dat ek nie tuis na myself kan omsien nie. Dit voel vir my Covid is soos melaatsheid, want mense traak nie oor jou nie.”

Harteveld sê sy verstaan mense se vrees, maar sê hulle kan nie aansteek deur jou emosioneel te ondersteun nie. "Hulle hoef mos nie fisiek in noue kontak met my te kom nie.

Haar 24-jarige seun, Johan, is 'n kankerlyer en word elk tweede week vir drie dae by die Onkologiesentrum in Windhoek vir chemoterapie opgeneem.

Hy het voor die pandemie as jag- en toergids gewerk, maar woon nou by haar tussen sy behandelings.

“Johan is ook getoets, maar was gelukkig negatief. Ons het besluit hy moet by my dogter gaan bly sodat ek hom nie aansteek nie.”

Harteveld sê party dae het dit gevoel sy het nie krag om op te staan en haar tande te borsel nie. “Ek het kos in my yskas, maar het nie die krag om vir my iets te maak om te eet nie.

“Wat ek besef het, is Covid sonder nie mense uit nie. Of jy ryk of arm is; ons is almal in hierdie bootjie. Ek het ook besef mense is so gefokus op hulself dat jy nie op die steun van ander kan staatmaak nie.”

Sy sê Johan, wat aan 'n rare soort beenkanker bekend as Ewing sarcoma ly, moet nog tot Januarie volgende jaar chemoterapie ondergaan. Hy is in Mei geopereer en die gewas is van sy bekkenbeen verwyder, maar dit was nie die einde van sy behandelingspad nie.

As jag- en toergids is hy tans sonder inkomste. Die JC Nolte Cancer Collection Funds is gestig om met die uitgawes te help wat sy mediese fonds nie dek nie. Belangstellendes kan die fonds se Facebook-blad vir meer inligting besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer