Covid-19 in Namibiu00eb vermoed
Covid-19 in Namibiu00eb vermoed

Covid-19 in Namibië vermoed

Denver Kisting
Denver Kisting – Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het gisteroggend bevestig Namibië het ’n vermoedelike geval van die coronavirus.

Hy sê die 63-jarige vrou het uit Japan via Suid-Afrika na Namibië gereis.

Sy het Vrydag met haar aankoms ’n private mediese instelling besoek weens ’n hoes en asemhalingsprobleme, sê Nangombe.

Hoewel die toetsuitslae teen gisteroggend nog nie beskikbaar was nie, is die vrou aangeraai om haarself intussen te isoleer, sê Nangombe.

Hy het beklemtoon die geval is nog nie bevestig nie. “Sodra ons die uitslae het, sal ons die land inlig.”

Nangombe het gistermiddag voorts bevestig 'n tienerfamilielid van die 63-jarige vrou is ook vir die virus getoets. Dié seun was na verneem word saam met haar op die vlug.

Die nuus kom nadat die derde geval van die virus die afgelope naweek in die naburige Suid-Afrika aangemeld is.

Oor ’n vermoedelike geval van dié siekte op Rehoboth, sê Nangombe dit strook nie met die voorkoms van corona nie.

“Ons neem niks as vanselfsprekend nie, maar daar is tans geen bevestigde geval van die coronavirus in Namibië nie.”

Meer as 3 000 mense is reeds wêreldwyd dood weens dié siekte wat vir die eerste keer in Desember verlede jaar in China aangemeld is.

GEVALLE IN SUID-AFRIKA

Intussen het die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, dr. Zwelini Mkhize, in ’n mediaverklaring bevestig dat daar ’n derde geval van covid-19 in die buurland is.

Dit is die vrou van die eerste persoon in Suid-Afrika wat positief vir die virus getoets het. Sy was een van die groep van tien mense wat saam met hom na Italië gereis het.

Hul kinders het egter negatief vir die virus getoets.

“As ’n voorsorgmaatreël bly die kinders onder selfkwarantyn en sal hulle op ’n latere stadium weer getoets word,” lui die verklaring. Hulle word in die tussentyd as “moontlik besmet” beskou en sal nie skool toe gaan nie.

Die minister sê hy het die geleentheid gehad om met die eerste covid-19-pasiënt te gesels, wat opgewek en joviaal geklink het.

“Ek het ook met die dokter gesels wat hom behandel en sy het bevestig haar pasiënt reageer goed op die behandeling en toon nie meer enige simptome nie.

“Op die regte tyd, soos deur die dokters bepaal, sal die pasiënt weer getoets word om vas te stel hoe sy herstelproses vaar,” het Mkhize gesê.

Daar is intussen al tien van die mense, wat saam na Italië gereis het, opgespoor. Net nege van hulle het na Suid-Afrika teruggekeer. Die ander ses se toetsresultate sou glo binne 48 uur beskikbaar wees.

Die tweede covid-19 geval was ook iemand van die toergroep.

Dr. Mkhize sou gister Suid-Afrikaners inlig oor die kliniese waarneming en riglyne wat gevolg moet word, soos deur die Wêreldgesondheidorganisasie (WHO) voorgestel word, as dit by pasiënte kom wat nie simptome wys nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer