Covid-19-verwante sterfte op Walvisbaai 'n vrou
Covid-19-verwante sterfte op Walvisbaai 'n vrou

Covid-19-verwante sterfte op Walvisbaai 'n vrou

Ernstige kommer bestaan omdat mense positief toets sonder dat hulle kontak met 'n bevestigde geval gehad het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Vrou van Walvisbaai is die negende Namibiër wat aan Covid-19 dood is.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, is die 44-jarige vrou van die hawedorp Dinsdag aan Covid-19 dood.

Sy het volgens die minister ander chroniese mediese toestande gehad. Dit bring die getal sterftes vir die land op nege te staan.

Volgens Shangula is die vrou op 21 Julie in die staatshospitaal in die dorp met Covid-19-verwante simptome opgeneem waar sy getoets is en haar toestand geleidelik tot met haar dood verswak het.

Shangula het 69 nuwe Covid-19-gevalle aangekondig wat die totaal vir die land op 1 986 te staan bring. Uit die 69 nuwe gevalle is 57 op Walvisbaai, een op Swakopmund, een op Usakos, agt in Windhoek, een op Mariental en een op Engela. Die ouderdomme wissel van ses tot 77 jaar en sluit 38 mans en 31 vroue in.

Die geval op Usakos is 'n 57-jarige vrou en 'n kontak van 'n bevestigde geval. Die geval op Mariental is 'n 34-jarige vrou wat by 'n plaaslike vul­stasie werk. Sy het geen kontak met 'n bevestigde geval, reisgeskiedenis óf simptome nie.

Die geval op Engela is 'n 30-jarige vrou wat vanaf Walvisbaai gereis het om 'n troue by te woon. Lede van die gemeenskap het egter aangedring dat sy in kwarantyn geplaas word, waar sy positief getoets het.



Die gevalle in Windhoek is:

• 'n 57-jarige man en kontak van 'n bevestigde geval.

• 'n 24-jarige vrou en werker van Telecom. Sy het geen kontak met 'n bevestigde geval gehad nie, maar 'n persoon van dieselfde huishouding wat wel kontak met 'n geval gehad het, het positief getoets.

• 'n 33-jarige man van die militêre basis in Suiderhof met geen kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 27-jarige vrou met geen kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 52-jarige vrou met geen kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 34-jarige man en werker by 'n plaaslike mark met geen kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 55-jarige man met geen kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 47-jarige man en kontak van 'n bevestigde geval.

Volgens Shangula is dit “uiters ontstellend” hoeveel gevalle tans aangemeld word wat geen kontak met 'n bevestigde geval gehad het nie.

Tot op hede het 104 mense herstel. Die land het 1 873 aktiewe gevalle; 24 852 weefselmonsters is getoets en 1 459 mense is tans in kwarantyn.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer