Covid-19: Tweede golf dalk by kruin, maar . . .
Covid-19: Tweede golf dalk by kruin, maar . . .

Covid-19: Tweede golf dalk by kruin, maar . . .

Dani Booysen
Data vir die sewedaesiklus tot op Woensdag 6 Januarie 2021 toon ‘n gemiddelde afname in nuwe gevalle van die coronavirus in Namibië.
Nog ‘n week sal egter moet uitloop om te bewys die tweede golf van die verspreiding van Covid-19 is regtig besig om af te plat.
Hoewel minder toetse die laaste siklus verwerk is, toon Republikein se somme dat die nasionale gemiddeld selfs teen dieselfde toetstempo en die hoogste positiewe koers steeds effens sou afgeneem het.
Sekere feite maak dit nietemin noodsaaklik om nie voorkomingsmaatreëls te verslap nie:
• ‘n Voortgesette toename in gehospitaliseerde en kritieke gevalle
• Meer gesondheidswerkers toets steeds positief
• Verwante sterftes was in Desember die tweede meeste sedert die kruin van die eerste golf in Augustus – en die dodetol in Januarie is ná net sewe dae die hoogste nog.
• 22 van die land se 35 gesondheidsdistrikte meld gemiddeld 5 of meer gevalle per dag aan teenoor 19 die vorige week.
• 12 distrikte toon steeds ‘n toename in nuwe gevalle

OORSIG
Namibië se nasionale gemiddeld van nuwe gevalle per dag was vier weke gelede 262 en het toe verhoog tot 425 en daarna tot 480 teenoor 392 vir die sewe dae tot Woensdag.
Ons kaart toon die sewedae-oorsig vir distrikte met 5 of meer gevalle.
Vorige daaglikse gemiddeldes in hierdie kategorie het gedurende die afgelope sewedaesiklus net in die Omaruru-distrik tot minder as 5 afgeneem. Die gemiddeld hier was 10 en is nou 3.
Afnames in distrikte nie op die kaart nie: Khorixas (van 4 na 3), Andara (3 na 1), Tsandi (2 na 0,9), Okongo (0,9 na 0) en Nankudu (0,7 na 0).
Op Nyangana is 1 geval aangemeld teenoor geen die vorige week.
Konstante daaglikse gemiddeldes benede 5: Engela 4, Grootfontein 4, Okakarara 1, Aranos 0,3.
Gedurende die afgelope 28 dae is 48 997 monster getoets.
Week 4 Alle toetse 11 615, nuwe gevalle 2 741
Week 3 Nuwe toetse 12 533, hertoetse 837, nuwe gevalle 3 362
Week 2 Nuwe toetse 12 418, hertoetse 401, nuwe gevalle 2 972
Week 1 Nuwe toetse 10 992, hertoetse 201, nuwe gevalle 1 834
Gedurende die sewe dae tot op 6 Januarie is 885 persone in kwarantyn opgeneem en 943 ontslaan.
‘n Totaal van 3 158 kontakpersone van positiewe gevalle is oor dieselfde periode nagespoor.

AKTIEWE GEVALLE PER STREEK
Erongo 753
Hardap 128
Kavango-Oos 134
Kavango-Wes 6
//Kharas 515
Khomas 888
Kunene 97
Ohangwena 74
Omaheke 63
Omusati 77
Oshana 501
Oshikoto 237
Otjozondjupa 224
Zambezi 76

GESONDHEIDSWERKERS
Top op 6 Januarie het 1 167 gesondheidswerkers die virus opgedoen.
Hierdie week alleen is 82 gevalle tot die totaal bygevoeg – Maandag 32, Dinsdag 29 en Woensdag nog 21.
Sedert die aanvang van die tweede golf het meer gesondheidswerkers (620) positief getoets as die hele agt maande voor dit.

STERFTES
In Januarie is reeds 21 sterftes aan Covid-19 toegeskryf. Hierdie koers van gemiddeld drie sterftes per dag kan styg omdat sekere sterftes eers etlike dae na die tyd gerapporteer word.
In Desember is 63 sterftes aan Covid-19 gekoppel.
Sterftes per maand voor dit was as volg: Julie 11, Augustus 75, September 35, Oktober 10, November 18.
Die meeste sterftes per dag was ses (6), op die volgende datums: 23 Augustus, 27 Augustus, 26 Desember, 30 Desember, 5 Januarie.

REGULASIES ONDER OORWEGING
Huidige regulasies, buiten vir besluite oor skoolbywoning, verstryk op 13 Januarie. Die staatshoof of die minister van gesondheid en maatskaplike dienste behoort dus vroeg in volgende week of op die laatste teen Woensdag ‘n aankondiging oor die pad vorentoe te maak.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer