Covid-19: Steeds meer as 450 nuwe gevalle per dag
Covid-19: Steeds meer as 450 nuwe gevalle per dag

Covid-19: Steeds meer as 450 nuwe gevalle per dag

Die afgelope dae is nie nuwe syfers verstrek nie, maar teen 29 Desember het meer as 1 000 gesondheidswerkers in Namibië sedert Maart positief vir die coronavirus getoets.
Dani Booysen
Dani Booysen – Die afgelope vier weke het die gemiddeld van nuwe gevalle van die coronavirus in Namibië stelselmatig toegeneem van 208 per dag tot 311 per dag en die vir afgelope twee weke meer as 450 gevalle per dag.

Die verwerking van aansienlik minder toetse op beide Kersdag en Nuwejaarsdag briek nie die algemene tendens nie.

Die daaglikse gemiddeld vir die sewe dae tot Saterdag was 456 – die uitslae is gister (Sondag) bekendgemaak. Die sewedaesiklus voor dit was die daaglikse gemiddeld 458.

Namibië betree binnekort die 32ste week sedert die eerste aansteekgolf in Junie begin het. Sommige wêreldlande het teen week 32 ‘n afplatting in die tweede golf begin sien, maar in sekere lande word kort daarop reeds ‘n derde golf bespeur.

BYNA 2 STERFTES PER DAG

Al is in Desember 55 sterftes aan Covid-19 toegeskryf, bly die land se dodetol onder positiewe gevalle baie laag – minder as een persent.

Die meeste sterftes op een dag was vyf; op Gesinsdag, 26 Desember.

Die jongste slagoffer was ‘n 11 maande oue babadogtertjie – maar net die tweede babasterfte in die land.

In net 11% van sterfgevalle het persone nie ander siektes onder lede gehad nie. Drie persone het tuis gesterf, hoewel die besonderhede nie elke dag verstrek is nie.

Van die gestorwenes was 24 (44%) sestig jaar oud of ouer. Drie was ouer as 20, vyf in hul dertigs, 11 in hul veertigs en nog 11 was 50 of ouer.

In Januarie is reeds vier sterftes aan Covid-19 toegeskryf; twee elk op 1 en 2 Januarie.

Die afgelope twee dae is sterftes bevestig in Windhoek (4) asook die distrikte van Karasburg (1) en Keetmanshoop (2).

Teen Saterdag was 261 persone in die hospitaal; 41 van hulle in intensiewesorgeenhede in Windhoek (36), die Erongostreek (4) en Oshikoto (1).

BRANDPUNTE

Buiten vir Windhoek ervaar alle distrikte in die Erongostreek die afgelope weke ‘n toename in nuwe gevalle. Ander brandpunte sluit in die distrikte van Opuwo, Oshakati, Rundu, Tsumeb, Outjo, Otjiwarongo, Gobabis, Okahandja, Rehoboth, Mariental, Keetmanshoop, Karasburg en Lüderitz.

Die afgelope dae is daar ook ‘n uitbreking in die Omusatistreek.

Gister is 117 gevalle vir die hoofstad aangekondig, 55 in die Swakopmund-distrik, ewe veel op Oshakati, 54 op Rehoboth, 32 op Onandjokwe en 21 op Rundu.

Volg ons daaglikse grafika oor Covid-19 aanlyn op ons webwerf en op Facebook.

GESONDHEIDSWERKERS

Sedert ons laaste koerantberig, wat data tot op 22 Desember vermeld het, het nog 189 gesondheidswerkers positief vir Covid-19 getoets.

Die totale gevalle in die beroep sedert Maart het teen 29 Desember op 1 049 gestaan. Syfers oor gesondheidswerkers is sedertdien nie daagliks verstrek nie.

Die nuwe 189 gevalle is as volg versprei per streek:

Khomas 81, Erongo 23, Oshana 14, Kunene 13, Otjozondjupa 13, //Kharas 12, Oshikoto 11, Kavango-Oos 7, Ohangwena 5, Omaheke 5, Omusati 3, Hardap 2

Gedurende dieselfde periode (23 Desember tot 2 Januarie) is 1 601 persone landwyd onder kwarantyn geplaas en 1 429 uit kwarantyn ontslaan.

Nog 4 163 pasiënte is gedurende dieselfde 11 dae ontslaan en by die huidige 21 055 (85%) herstelde gevalle getel.

TOETSE

Gedurende die sewe dae van 23 tot 29 Desember is 12 456 nuwe persone se Covid-19-toetse verwerk. Dit verteenwoordig ‘n gemiddeld van 1 781 toetse per dag en sluit 798 hertoetse (gemiddeld 114 per dag) uit.

Van 30 Desember tot 2 Januarie is 7 043 toetsmonsters deur laboratoriums verwerk teen ‘n gemiddeld van 1 760 per dag. Die syfer sluit hertoetse in.

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer