Covid-19 plettervat SA rugbyreekse
Rugby
Stephen Nell – Die Bulle gaan in alle waarskynlikheid Saterdag die Superrugby Unlocked-kompetisie wen en hul president glo geen unie sal betwis dat hulle 'n waardige kampioen is nie.
Dit volg ná die dramatiese aankondiging gister dat die Haaie en Stormers se wedstryd, wat komende Saterdag op Kingspark in Durban gespeel sou word, afgelas is omdat van die Haaie se vaskopstutte positief vir die coronavirus getoets is. Die Stormers en Haaie kon albei Saterdag nog 'n kans gestaan het om die Superrugby Unlocked-trofee te wen.
Maar, sê Willem Strauss, die Bulle verdien dit.
“Dit is buitengewone tye, maar ek glo die ander spanne sal dit vir ons gun,” het hy aan Cobus Claassen gesê.
“As ons wel Saterdag as die kampioen gekroon word, sal daar op gepaste wyse van Superrugby afskeid geneem word met die Bulle wat die enigste span was wat dié kompetisie kon wen.”
Selfs al sou die Bulle Saterdag teen die Pumas verloor (die wedstryd word met 'n dag uitgestel) sal dit nie sommer die Bulle die titel kos nie.
Indien die span van Loftus Versfeld ook geen bonuspunt insamel nie, sal hy, die Stormers en Haaie almal op 19 ligapunte eindig.
Die span met die beste punteverskil sal dan as die kampioen gekroon word. Die Bulle se punteverskil is 70, die Stormers s'n 28 en Haaie ses.
Die Laevelders sal dus met 43 punte moet wen vir die Stormers om met 'n beter punteverskil as die Bulle te eindig en die kompetisie sodoende boaan die puntelys af te sluit. Dié scenario is hoogs onwaarskynlik.
'n Meer netelige saak is dat ligapunte uit die Unlocked- na die Curriebeker-reeks – die groter prys – oorgedra word.
'n Ongeloofwaardige Unlocked-punteleer raak dus ook die integriteit van die Curriebekerreeks.
Die Haaie/Stormers-wedstryd is die derde in die Unlocked-reeks wat afgelas is.
In Oktober kon die Leeus en Cheetahs nie kragte meet nie, en verlede week was dit die Leeus en Pumas. In daardie wedstryde was die coronavirusgevalle onderskeidelik by die Leeus en Pumas.
Soos sake staan, kon die Leeus nie in twee wedstryde speel nie, wat beteken dat hulle net vier uit 'n moontlike 10 ligapunte gekry het. Die Cheetahs, Pumas, Haaie en Stormers het almal twee uit 'n moontlike vyf gekry vir hul wedstryde wat afgelas is.
'VEILIGHEID EERSTE'
By die Stormers en Haaie is daar egter nie teenstand teen die kansellasie van hul wedstryd nie.
John Dobson, afrigter van die Stormers, meen spelers se welstand moet voorop gestel word.
“Ons is baie teleurgesteld dat ons nie die wedstryd kan speel nie. Ons het daarna uitgesien, maar respekteer ten volle die moeilike tye waarin die kompetisie gespeel word,” sê Dobson.
“Maar, soos ek 'n paar weke gelede gesê het, gaan hierdie tipe situasies die integriteit van die toernooi in twyfel trek. Dit het uiteraard 'n impak op die Curriebekerreeks met punte wat oorgedra word.”
Die Haaie het aan Tinus van Staden gesê hulle is “hartseer” oor die afgelasting van die wedstryd.
“Die protokolle wat deur Saru en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) uitgestippel word, volg ons streng na. Volgens daardie protokolle is die besluit in die beste belang van alle betrokkenes,” sê die Haaie.
“Veiligheid bly ons eerste prioriteit en diegene in die span wat positief getoets is, is in kwarantyn en sal deur die spandokter gemonitor word.”
'n Vraag wat wel gaan opduik vir die pad vorentoe, is of dit regverdig is dat die span wat coronavirusgevalle oplewer, steeds twee ligapunte moet kry indien 'n wedstryd gevolglik afgelas word.
Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het gister 'n pleidooi aan spelers gelewer om versigtig te wees wanneer hulle sosiaal verkeer.
“Dit neem net een nalatige interaksie deur 'n enkele speler om 'n invloed te hê op 45 ander spelers, spanbesture, die skedule en potensieel wie die titel gaan wen,” sê hy.
“Fikse, jong atlete is dalk in die versoeking om te dink dat hulle 'immuun' is teen infeksie en nie komorbiditeite het wat hulle kwesbaar maak nie. Maar 'n positiewe toets vir een kan yslike nagevolge hê.
“Ek vertrou dat spanbesture hierdie boodskap op 'n daaglikse basis aan spelers sal oordra.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie