Covid-19: Meer as 'n duisend nuwe gevalle
Covid-19: Meer as 'n duisend nuwe gevalle

Covid-19: Meer as 'n duisend nuwe gevalle

Die aantal bevestigde Covid-19-gevalle het Saterdag met ’n rekordgetal van 125 gestyg, waarvan die meeste in Walvisbaai voorgekom het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die aantal bevestigde Covid-19-gevalle het Saterdag met 125 gestyg en nie 127 soos vroeër deur die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esther Muinjangue, bekend gemaak is nie. Dit het die totaal teen gister op 1 203 te staan gebring. Sondag se gevalle sou eers gister om 20:00 aangekondig word.

Volgens Muinjangue is twee Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders en die res Namibiërs. Een is 'n pasiënt in 'n plaaslike hospitaal in Windhoek, twee op Swakopmund, twee Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders op Keetmanshoop waarvan een vrag op Rössing, Arandis afgelaai en terug in Suid-Afrika is en die ander vragmotorbestuurder nog opgespoor moet word. Nog gevalle is ’n gesondheidswerker by 'n plaaslike gesondheidsinstelling op Lüderitz en 'n Namibiese vragmotorbestuurder op Engela wat tans in Windhoek in kwarantyn is. Die res is van Walvisbaai.

Die jongste is nege maande oud en die oudste 56. Een van die gevalle wat Vrydag vir Walvisbaai aangekondig is, is volgens Muinjangue eintlik van Lüderitz. Hy is 'n 46-jarige man wat in 'n plaaslike winkel werk en geen kontak met 'n bevestigde geval gehad het nie en ook geen reisgeskiedenis het nie.

Intussen berig Dani Booysen volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se data is 1 329 nuwe toetse die afgelope Maandag tot Vrydag verwerk. ’n Totaal van 849 kontakpersone is in dieselfde vyf dae nagespoor.

Syfers per streek was as volg: Nuwe toetse: Erongo 733, Khomas 177, Ohangwena 77, ||Kharas 77, Hardap 71, Oshana 67, Zambezi 43, Otjozondjupa 29, Omaheke 21, Oshikoto 18, Omusati 10, Kunene 3 en Kavango 3. Kontakte nagespoor: Erongo 794, Zambezi 41, ||Kharas 25, Khomas 19, Otjozondjupa 7, Ohangwena 6 en Oshana 2

(Die Kavango-Oos en –Wesstreek word vir datadoeleindes as een gebied beskou.)

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer