Covid-19: Kantore hoef net vir 48 uur te sluit
Henriette Lamprecht
Verskeie staatsinstellings, kantore en besighede sluit hul deure vir langer as die vereiste 48 uur nadat 'n vermoedelike of bevestigde Covid-19-geval op die betrokke perseel was.
Die regulasies van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bepaal areas waar so 'n persoon op die perseel was, moet afgeskort en ontruim word en mag eers ná 48 uur weer betree word ná ontsmetting.
Die minister, dr. Kalumbi Shangula, het gister by navraag bevestig ná die minimumtydperk van 48 uur berus die besluit by die bestuur oor wanneer die instelling of werksplek weer sy deure open.
In gevalle waar die vermoedelike of bevestigde Covid-19-geval meer as 48 uur laas op die perseel was, is dit nie nodig dat die betrokke onderneming of werksplek ontsmet moet word of tydelik hoef te sluit nie.
Gister het Agribank met onmiddellike effek sy hoofkantoor in Windhoek vir nege dae tot 27 Augustus gesluit ná 'n bevestigde Covid-19-geval in sy werkerskorps.
Die ministerie van openbare ondernemings se hoofkantoor is vir 'n week toe tot volgende Maandag nadat een van sy personeellede positief getoets het. Sanlam bly egter by die regulasies se 48 uur en het as voorkomingsmaatreëls werksaamhede by sy departement vir kliëntedienste vir twee dae opgeskort nadat twee werknemers in die betrokke departement positief getoets het.
Dundee Precious Metals se werksaamhede gaan soos normaal voort nadat 'n werknemer positief getoets. Volgens 'n verklaring is die maatskappy se noodreaksieprotokol onmiddellik ingestel en is die koers verhoog waarteen alle kantore, busse en algemene areas ontsmet word.
Volgens die ministeriële regulasies moet 'n persoon (werker, werkgewer, besoeker) wat 'n vermoedelike of bevestigde Covid-19-geval is, onmiddellik in 'n afsonderlike kamer geïsoleer word. Die Covid-19-waarnemingspan van die ministerie moet vervolgens dadelik by die tolvrye nommer 0800100100 ingelig word.
Areas waar die betrokke persoon was, moet dadelik ontruim en afgeskort word en mag eers ná 24 uur betree word. Tydens die ontsmetting moet deure en vensters oopgemaak word om lugvloei te verseker. Persone wat nie in noue kontak met die vermoedelike of bevestigde geval was nie, kan die perseel ná afloop van 48 uur en nadat die perseel ontsmet is, weer binnegaan. Alle persone wat wel in noue kontak was, moet in verpligte selfkwarantyn vir sewe dae gaan. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie