Covid-19: Gemengde gevoelens in nedersettings

Van die hoofstad se bewoners voel die gemeenskap kan by inligtingspamflette baat.
Tanja Bause
Tanja Bause – Mense in die informele nedersettings by die hoofstad het deur middel van radio en koerante van die nuwe coronavirussiekte, Covid-19, uitgevind, sê hulle.

Me. Hilia Nambinga sê sy dink mense beskik oor genoeg inligting oor die virus.

“Mense hoor gereeld oor die radio en lees in koerante van die virus. Maar die mense wat by klinieke en hospitale werk, lig die gemeenskap ook in. Dit is deesdae die eerste vraag wat mense mekaar vra: ‘Weet jy van iets nuuts oor die virus?’ of ‘Het jy die nuutste gehoor?’, en so weet almal alles oor corona,” sê sy.

Me. Natasha Garoes sê sy het nie genoeg inligting tot haar beskikking nie en sal inligtingspamflette waardeer.

“Party mense sê dít oor die virus en ander sê dát. Dit is soms bietjie verwarrend en jy is nie seker wie jy moet glo nie.”

Mnr. John Hamunyera het oor die TV-nuus van die virus gehoor en op die internet daaroor opgelees.

“Ek het navorsing gedoen, maar baie mense is nie seker wat presies die tekens van iemand met die nuwe coronavirussiekte is nie. Hulle het dalk nie toegang tot die internet nie en kan nie verdere navorsing doen nie,” sê hy.

Hy is ook bekommerd oor die skole wat vroeër gesluit het, omdat sommige kinders nog besig was om eksamens te skryf en onsekerheid nou heers.

“Hulle moet nog skryf en dit is ’n probleem, want wat gaan hulle nou doen?”

Me. Paulina Petrus het by gemeenskapslede van die virus gehoor.

“Ek weet nie hoe dit versprei word, hoe dit gestop kan word of hoe om dit te voorkom nie,” sê sy.

Petrus is kwaad oor die skole wat vroeër gesluit het.

“My driejarige kind is nou alleen by die huis, omdat ek moet werk. Die bure het gesê hulle sal ’n oog oor haar hou, maar dit is nie veilig nie en daar is niks wat ek kan doen nie.”

Me. Julia Ipinge sê sy het oor die radio gehoor sy moet haar hande gereeld en deeglik was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer