Covid-19: 172 nuwe gevalle, een sterfte in twee dae
Covid-19: 172 nuwe gevalle, een sterfte in twee dae

Covid-19: 172 nuwe gevalle, een sterfte in twee dae

Denver Kisting
Denver Kisting





In dié stadium is die aantal daaglikse gevalle in Namibië die vierde hoogste op die vasteland, sê pres. Hage Geingob.

Tussen Vrydag en Saterdag is ’n totaal van 172 nuwe bevestigde gevalle en een sterfte weens Covid-19 in die land aangemeld.

Mnr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, sou na verwagting gisteraand om agtuur Sondag se nuwe gevalle aankondig.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het Vrydagaand aangekondig Namibië het toe 77 nuwe bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld.

’n Totaal van 62 van dié gevalle is op Walvisbaai, terwyl agt op Swakopmund aangeteken is.

In Windhoek is vyf nuwe gevalle aangeteken, terwyl Okahandja twee het.

Nangombe het Saterdagaand op nasionale televisie gesê ’n 53-jarige man is op Swakopmund dood weens Covid-19-verwante komplikasies. Die oorledene het ook ander onderliggende kwale gehad, sê Nangombe.

Dit het die aantal sterftes in die land tot Saterdagaand op elf te staan gebring.

Volgens die uitvoerende direkteur is 95 nuwe bevestigde gevalle van die virus Saterdag in Namibië aangeteken.

’n Totaal van 42 is op Walvisbaai aangeteken, terwyl 17 op Swakopmund en 29 in Windhoek aangeteken is.

Ses nuwe gevalle is op Okahandja aangeteken, terwyl 1 op Oshakati aangeteken is.

In dié stadium, het Geingob Vrydagmiddag by Staatshuis gesê, is dit net Suid-Afrika, eSwatini en Gaboen wat Namibië troef wat daaglikse getalle betref. “Die pandemie verander ingrypend in ons land. Dit het vier maande geduur voor 1 000 gevalle aangeteken is. Dit het egter net 14 dae geduur om 2 000 gevalle in die land aan te teken van wie meer as 95% van Walvisbaai is.”

ERONGO BLY GEDEELTELIK TOE

Geingob het Vrydag gesê die Erongostreek en die spesiale bedeling wat vir Walvisbaai, Swakopmund en Arandis geld, bly in fase 3 tot 31 Augustus om middernag.

Wat die res van die land betref, is fase 4 ook tot dan in werking, het hy gesê.

Van middernag vandag word die aantal mense wat by openbare saamtrekke toegelaat is in die 13 streke opnuut verminder van 250 tot 100.

Hoewel sjebeens en kroeë steeds alkohol mag verkoop, mag drank net tuis geniet word.

Hotelle en restaurante mag drank verkoop wat op hul persele geniet mag word mits kliënte ook vir etes op dié persele aansit.

Die huidige bedeling – fase 3 vir Erongo en fase 4 vir die res van die land – sou na verwagting vandag om middernag ten einde geloop het.

SKOLESAKE STAAN Só

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het gistermiddag in ’n verklaring gesê leerlinge in grade 1, 2, 3, 7 en 9 keer net vandag terug skool toe om die werk wat tot dusver behandel is, af te handel en nuwe take vir deurlopende evaluering te ontvang.

Leerlinge in graad 11 en 12 meld vandag opnuut aan vir onderrig van aangesig tot aangesig, terwyl diegene in graad 10 môre terugkeer skool toe.

Nghipondoka het gemaan die jongste opskorting van onderrig vir graad 0 tot 9 vir 28 dae “moenie beskou word as ’n skoolvakansie of ’n algehele sluiting van skole nie”.

Die ministerie verwag van onderwysers om steeds daagliks by die werk aan te meld en om aan te hou verseker leerlinge kan van die huis af take voltooi.

“Ons erken elke skool se unieke konteks en pleit by onderwysers, skoolbestuur en gemeenskappe om saam te werk om die uitdagende aspekte te pak wat gedurende dié moeilike tye ervaar word.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer