Covax beloof entstof binne drie weke
Covax beloof entstof binne drie weke

Covax beloof entstof binne drie weke

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Covax, waarvan Namibië as selfgefinansierde land lid is, het aangedui Covid-19-entstowwe wat vir die land geoormerk is, sal oor die volgende drie weke in die land aankom.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister tydens die aankondiging van die jongste regulasies om die Covid-19-pandemie in die land te bestuur, gesê konsultasies gaan ook voort om hulpbronne van geregistreerde private mediese fondse aan boord te bring om tot die aankoop van entstowwe by te dra.

Die doel volgens hom is om dit moontlik vir lede en hul afhanklikes te maak om hul immunisering deur middel van hul mediese fondse te ontvang.

“Die ministerie werk ook aan ’n raamwerk om die invoer van entstowwe deur entiteite buiten die ministerie te fasiliteer,” het hy gesê.

Shangula het die immuniseringsveldtog wat tans in Khomas en Erongo onderweg is, as ’n “sukses” beskryf.

Volgens hom is die proses “omvattend” en duur dit gemiddeld ’n uur om een proses deur die agt fases van die immunisering te neem.

Shangula sê die meeste van die meer as 1 200 mense wat tot op hede geïmmuniseer is, is gesondheidswerkers.

Hy het beklemtoon die entstowwe wat reeds ontvang is, Sinopharm en Covishield, sal nie verval voordat persone die vereiste twee dosisse, sowat ’n maand uitmekaar, ontvang het nie. Volgens hom verskyn Covishield wel op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se lys vir noodgebruik (EUL) wat nie die geval met Sinopharm is nie.

Sinopharm is op 19 Maart ontplooi, terwyl Covishield vanaf vandag as deel van fase 1 van die immuniseringsveldtog ontplooi sal word. Fase 2 van die veldtog skop op 19 April af.

Met verwysing na die 520 Covid-19-verwante sterftes wat die land tot dusver aangeteken het, sê dit is veel meer as die WHO Afrika se siekteprojeksiemodel van 396 vir Maart. Hy het die toenemende aantal mense wat ernstig siek aan Covid-19 raak, as kommerwekkend beskryf.

“As gevolg hiervan is daar toenemende druk op die aantal beskikbare isolasie- en intensiewesorgbeddens in die land.”

Die nuwe regulasies is tot middernag op 30 April van krag. Dit sluit in toegelate openbare byeenkomste kan nou 100 mense, binne of buite, by die geleentheid toelaat. Organiseerders moet register hou van almal wat dit bywoon. Sitplekke moet so geplaas word om steeds sosiale afstand te handhaaf. Die aanklokreël bly in plek van 22:00 tot 04:00. Dit is nie verpligtend vir kinders van die ouderdom van 0 tot 5 jaar om maskers by skole te dra nie.

Met verwysing na alkohol mag lisensiehouers alkohol Maandae tot Saterdae tot 22:00 verkoop. Geen alkoholverkope word egter op Sondae en openbare vakansiedae toegelaat nie. Die balseming van menslike oorskot wat aan Covid-19 dood is, word volgens die nuwe regulasies vir vervoerdoeleindes toegelaat, met dien verstande dit is deur ’n opgeleide persoon gedoen en maatreëls vir infeksiebeheer in plek is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer