Cosafa o.20: Só staan Namibië se kanse

Sokker
Mosambiek en Angola is deur na die semifinale van die Cosafastreek se kwalifiserende toernooi vir volgende jaar se o.20 Afrika Nasiesbeker (Mauritanië 2021), maar die gasheer Suid-Afrika is vandag uitgeskakel in ’n groot verrassing in Nelson Mandelabaai.
Suid-Afrika het ’n oorwinning teen die Jong Mambas nodig gehad om boaan sy groep te eindig, maar het verskeie kanse verspeel en die dwarslat getref in ’n 0-0 gelykoptelling.
Hierdie uitslag plaas Mosambiek op sewe punte in die topposisie, met Suid-Afrika tweede op vyf en Zimbabwe (wenners met 4-1 teen Lesotho) op vier.
Suid-Afrika en Zimbabwe se kanse om die enkele plek in die semifinaal vir die beste geplaaste tweede span op te eis, is verongeluk deur die regulasie dat uitslae teen die spanne onderaan groep A en B nie in ag geneem word nie.
Vir beide beteken dit hul oorwinning teen Lesotho word geïgnoreer, wat hulle onderskeidelik op twee punte en een punt laat. Dis reeds minder as die drie punte van eSwatini, wat tweede in groep C is.
Angola het die topposisie in groep C beklink sonder dat hulle vandag hoef te gespeel het, met hul groepwedstryde reeds afgehandel.
Botswana se sege met 1-0 teen eSwatini het al drie spanne op drie punte laat eindig, wat doelverskil die bepalende faktor gemaak het. Angola s’n (+3) is beter as eSwatini (gelyk) en Botswana (-3).

NAMIBIË
Groep B word Woensdag bepaal, met drie spanne steeds in tel vir die posisie as groepwenner.
Die verdedigende kampioen Zambië speel teen Malawi (15:30) en het net ’n enkele punt nodig om boaan klaar te maak. Maar ’n sege vir Malawi sal hom bo Zambië plaas (op die uitslag teen direkte opponente, “head-to-head”) en potensieel as groepwenner.
Maar as afrigter James Britz se Namibiese o.20’s boonop met Comore afreken (15:30), kan al drie spanne met ses ligapunte eindig en kan doelverskil bepalend wees.
eSwatini sal steeds ’n belangstelling in al die uitslae behou, in die hoop om dalk ook as die beste naaswenner te eindig.
• Volg die aksie vanaf beide speelvelde regstreeks op www.cosafa.tv of www.cosafa.com.

WOENSDAG SE BEPALINGS
Groep B
15:30 – Zambië tn Malawi
15:30 – Namibië tn Comore
• Semifinale is Vrydag om 12:00 en 15:30.
• Sondag: bronsfinaal 12:00; eindstryd 15:00.

FOTO’S: cosafa.com / Sydney Mahlangu/ BackpagePix

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer